
Ná weke of maande se voorbereiding het Barend en Juan Coetzee saam met ongeveer 600 fietsryers, die uitdagende 175km Kremetart fiets-resies op Louis Trichard aangedurf. Vroegoggend met die sonnetjie nog nie behoorlik op nie was dit bitter koud, maar presies om 7:45 het die groep met Barend en Juan aan die voorpunt, weggespring.
Die resies bestaan uit vier bene wat elk in drie ure gery moet word. Die eerste been van 52km begin met ‘n 10km klim teen die Soutpansberg uit op pad Musina toe. Gelukkig moet alles wat op weer af. Teen die bergpas af het Barend met sy handfiets ‘n maksimum snelheid van 80km/h behaal en die tyd wat hy teen die opdraande verloor het weer ingehaal.
Die tweede been van 48km was nog steeds windstil met minder opdraandes. Die manne en vroue kon hier gemaklik sit en trap.
Die derde been van 53km het teen ‘n opdraande begin met ‘n ligte wind van voor. Met reeds 100km agter die blad was dit die mees uitdagende been en het baie fietsryers dit nie gemaak nie. Hartseer om te sien hoe fietsryers wat fiks is en goed voorberei het agter op bakkies sit op pad terug dorp toe.
Die vierde been van 22km klink kort, maar daar is ‘n paar lelike opdraandes en Ottoshoogte wat oorkom moet word. Hier het Barend se handfiets ‘n maksimum snelheid van 82km/h behaal. Pa en seun was moeg en seer ná die uitmergelende 175km, maar hulle sê as hulle lewe en gespaar bly, is hulle volgende jaar weer daar.
Foto: Pa en seun reg vir die fietsresies.
















