
Op Maandag, 18 Junie, het die alombekende Bana Development Centre in Kathu hul 10e verjaarsdag gevier. Hierdie spesiale oggend is gehou saam met die skool se personeel, kleuters en ‘n paar eregaste vanuit die dorp. Die skool wat destyds in 2008 begin is met die oog daarop om kinders te leer op ‘n spelende wyse en so verskeie vaardighede te ontwikkel sonder dat die kleuter weet hy of sy is besig om iets te leer het van ‘n klein groupie, 120 leerders, gegroei tot by hul huidige getal van 270 kleuters! Daar is selfs 3 personeellede wat al vir die afgelope 10 jaar by die skool is, juffrou Cathy Wessels, Virginia Moalahi en juffrou Cynthia Mathe.
Dit was ‘n pragtige geleentheid met al die kleuters wat saam by ‘n baie lang tafel aangesit het. Daar was ‘n yslike groot verjaarskoek, wat later opgesny was en uitgedeel is aan die kleuters en personeel. Daar was selfs kersies aangesteek en geblaas ter viering van die groot verjaarsdag. Bana bedank graag elke persoon wat ‘n bydrae gelewer het om 10 jaar se bestaan moontlik te maak en steeds ‘n bydrae lewer om te sorg dat daar nog baie jare van feesviering gevier kan word.
Baie geluk Bana met hierdie groot verjaarsdagviering, mag daar nog vele meer wees.
















