Die 1978 matriekklas van Hoërskool Kalahari was die grootste tot op daardie stadium – 87.
Hulle het van heinde en verre op Kuruman toegesak om die 40-jaar reunie op 22 en 23 Sep 2018 op die Kuruman skougronde te vier. Vir omtrent ‘n jaar en ‘n half lank is daar hoog en laag gesoek na elke klasmaat. Daar was hartseer oor die agt maats wat weggeval het. In die aanloop tot die reunie het 2 verdere klasmaats gesterf.
‘n WhatsApp gonsgroep was die grootste kommunikasiemedium en via die selfone het daar ‘n hegte band ontwikkel, wat steeds voortgaan.
Uiteindelik kon 37 van die 87 matrieks die reunie bywoon.
By navraag het die skool aangedui dat hulle graag die sport in die skool wil bevorder en daarom het die 1978 Matrieks ‘n kontantskenking aan die skool gemaak. (Hulle het ook ‘n kontantbedrag aan die ouetehuis geskenk.)
Jupiter Electrical Wholesalers van Germiston het goedgunstiglik ‘n grootskerm Samsung televisie, asook Samsung mikrogolf en Russel Hobbs ketel en rooster geskenk wat die skool as fondsinsamelingsmiddels kan gebruik. Die matrieks het op 22 September 2018 die skoolhoof, mnr van Rooyen by die skool ontmoet waar hierdie skenkings aan hom oorhandig is. Die 1978 Victrix Lodorum, Rita Leach, het ‘n medalje en wisseltrofee in haar naam aan die skool oorhandig en so ook die 1978 Victor Ludorum, Gerhardt Maritz. Rita Leach en Gerhardt Maritz het beide die trofees destyds ontvang vir atletiek. Susan Botha (Jonker) het ‘n nuwe glas wisseltrofee asook medalje vir die beste sportvrou aan die skoolhoof oorhandig. Susan het in netbal provinsiale kleure verwerf in 1978.
Dit was nostalgies om weer na soveel jare die skoolterrein met sy netjiese tuine te betree en te sien hoeveel is nog dieselfde en hoeveel is anders en nuut. Dit was ‘n riem onder die hart om te hoor dat die skool as ‘n top akademiese skool beskou word en dat soveel van die tradisies steeds voortgesit word. Vele herinneringe het na vore gekom en na ‘n rondloop op die terrein het die groot feesvierings op die skougronde begin.
Geen detail is weggelaat nie. Daar was ‘n werkspan wat vooraf alles tot in die fynste besonderheid beplan en uitgevoer het. ‘n Stowwerige saal en stoep is omtower in ‘n pragtige kuierplek. Die tafels het gekreun onder die heerlike kosse. Koffie uit die boonste rakke is bedien. Die bederf het net nie einde gekry nie! Geskenksakke vol verrassings en bederf is uitgedeel. Almal het hulle verkyk aan die klasfoto en hoe almal nou lyk. Daar is stilweg hulde gebring aan die wat nie meer met ons is nie.
Daar is ywerig meegedoen aan al die kompetisies en pret. Die rooi-, groen- en geelspanne het weer teen mekaar meegeding soos van ouds. Sommiges is nie meer vining of vaardig nie, maar steeds baie gewillig ter wille van spangees. Dit is onbelangrik wie gewen het, want almal het soos wenners gevoel.
Daar is saam gekuier en gesels en weer gesels en baie gelag en hier en daar is trane gepink oor die lewe se seer en swaarkry, maar ook oor die Here se genade wat nooit ophou nie.
Die reunie het heel gepas ook ‘n nagmaalsdiens wat deur een van die 1978 matrieks, ds Johann Ludike, gelei is, ingesluit. Na ‘n laaste middagete het almal gegroet. Ou vriendskappe is weer gesement en nuwes gesmee. Niemand kan wag vir die volgende reunie nie!
















