
Wat ‘n vredevolle atmosfeer in die Kerstyd moet wees, is nie te bespeur uit gesprekke met die onderskeie inwoners nie. As ‘n mens die situasie in die dorpsmileu in aanmerking neem, verstaan ‘n mens die mate van bedruktheid, is raadslid Mimi Swart se kommentaar op ‘n vraag oor hoe sy voel teen die einde van ‘n vol jaar.
Knelpunte wat die héél jaar op die tafel gelê is, het weinig aandag gekry. ‘n Mens wil nie negatief oor jou dorp wees nie, maar die gebreke staan soos seer duime uit, sê sy.
Donker strate saans
‘n Straatlig is ‘n rariteit in die woongebiede – selfs in die middedorp ontbreek vele.
Losloper diere
Nog steeds loop die diere die strate vol en ontwrig verkeer en word die onreg teenoor die redelose diere wat sonder water en kos heeldag self hulle heil moet uitwerk, opgemerk. Waar is die eienaars ? Waar is die skut wat in November 2017 deur ‘n Kolomela woordvoerder by ‘n vergadering belowe is ? By navraag het hy later gesê hy wag net dat die Tsantsabane munisipaliteit die grond en plek toeken. (SIEN FOTO)
Teer- en ander strate
Rehabilitering en instandhouding bestaan nie meer in hierdie woordeskat nie. Die toestande in die woonbuurte se strate is onrybaar.
Wetstoepassing
Veral in die middedorp, is uit die mode. Let op die parkering, selfs op sypaadjies, spoed en getoet vir “raaksien” doeleindes.
Vullisverwydering
Elke week, die afgelope halfjaar word talle klagtes ontvang van vullis wat nie opgelaai word in woonbuurtes nie. Daar moet dan wéér teruggery word – teen addisionele kostes – wat die munisipaliteit nie kàn bekostig nie. Die vraag by die publiek is, wat word aan die volgehoue laksheid gedoen ?
Elektrisiteit
Bo en behalwe die negatiewe en onnodige instelling van beurtkrag as ‘n mens die redes daarvoor lees, is die netwerk in ‘n baie brose toestand. Takke veroorsaak kortsluitings teen die drade (menigmale word rapportering aan die munisipaliteit eenvoudig geïgnoreer), soveel pale hang windskeef (kyk byvoorbeeld in Finchamstraat), as die wind waai, hou jy jou hart vas vir die gevolge. Die netwerke is totaal verouderd. In Volksblad gedateer 10 Desember 2018, is Postmasburg ook onder die munisipaliteite waar krag gesny gaan word . . .
Nou vra ‘n mens jouself af : Wat word gedoen om die maandelikse betalings wat aan die Tsantsabane munisipaliteit gedoen moet word volledig in te kry en
die agterstallige geld in te vorder sodat die regmatige dienste gelewer kan word ? Dit is àl permanente oplossing vir ‘n donker prentjie . . .
Publieke swembad
Daar is deur verskeie inwoners gekla dat die swembad leeg staan in die versengende hitte in die vakansieseisoen, wat waar is. Weens die waterkrisis
wat ‘n mens nie kan bepaal wat die werklike rede is nie, is die swembad eers nie volgemaak nie. Daar is nou gehoor gegee op versoeke en die swembad is in werking. Streng bepalings sal egter moet geld. Verlede seisoen is daar min gebruik gemaak van dié fasiliteit. Gebruik dit nou rég en volgens die reels. Dit is ‘n duur ontspanningsfasiliteit om te onderhou.
Posbusse
Hier het ‘n onaanvaarbare euwel kop uitgesteek. Ongure elemente het snags by die poskantoor begin slaap, geëet, gemors, ontlas ensovoorts.
Die posbusse kon nie meer gebruik word onder hierdie onhigiëniese toestande nie. Die raadslid het vanaf Oktober 2018 met die areahoof gekontak, aangesien daar nie meer skoonmakers aangestel word nie. Sy het ‘n vereiste gestel toe dit eenmalig skoongemaak is, dat die gesondheidsafdeling van die munisipaliteit sal moet intree en so ‘n plek sluit onder sulke omstandighede. Na ‘n besoek aan die areabestuurder, sal deure geinstalleer word, wat saans saam met die poskantoor sluit. By implikasie beteken dit dat posstukke net gedurende kantoorure uitgehaal kan word. ‘n Klein prys wat betaal word om standaarde te handhaaf.
Die raadslid sê dat publieke medewerking om genoemde standaarde en norme weer in plek te kry, die behoud van die dorp is. Wees elkeen ‘n bewaarder en optreder teen verkeerde optredes, dan sal u binnekort die verandering sien en die skuldiges sal oor hul skouers moet kyk voor hul ongehoorde praktyke toepas.
Kersfeestyd is vredestyd. Loop almal die reguit pad en innerlike geluk sal gevind word. Kersfeesgroete aan al Postmasburg se inwoners.
















