
‘n Besondere mylpaal in Mnr Hammies van Niekerk se lewe.
Op 15 Januarie 1959 word Mnr van Niekerk gebore op Nababeep, omdat O’Kiep nie oor die nodige fasiliteite beskik het nie.
60 jaar later ken ons Mnr Hammies as iemand wat sy stempel as mens op ons geheueboksies gedruk het en veral diep spore in die onderwys getrap het.
Daar is vandag baie volwassenes wat aan die anderkant van ‘n paar skole se grensdrade rondloop wat die geluk van menswees gevind het omdat Mnr Hammies se rooi of groen penmerkies ‘n indruk op hul menswees gelaat het.
Ek glo daar is selfs ‘n paar wat afdrukke op hul sitvlak het om die waarde van verantwoordelike optredes te vind.
Mnr Hammies sien individualiteit raak en weet hoe om elkeen te motiveer en dissiplineer. Ons hou nie altyd van dit wat ons hoor nie, maar Mnr Hammies is ‘n kenner van sy werk en is bereid om by ander te leer.
Onderwysers is nie gewone mense nie en skoolhoofde is “superwesens”.
Hul kan 40 kinders, nog erger 90 personeel op 1 slag leer en hanteer.
Ons weet Mnr Hammies lê soms wakker soms om planne te beraam en ry hospitaal toe om siekes by te staan en gee ook raad as verhoudings of finansies nie werk nie.
Mnr Hammies het ‘n groot hart met baie stoeltjies daarin.
Mag vandag se herinneringe gevul wees met vrede, blydskap en liefde.
‘n Handvol gruis en gedroogde blare vertel soveel van die wonderjare;
arm was ek gister maar nou is ek skatryk!
















