Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

 

In Januarie 2016 is ‘n plaaslike Facebook-webwerf genaamd Scrap and Sell Across South Africa (SASASA) bekend gestel om alle fotoplakboekers en handvlyters in die bedryf te inspireer. Tot op hede het die groep meer as 5500 lede en groei steeds. Dit is ‘n oop platform vir almal in die bedryf om hul produk en liefde vir die stokperdjie te deel.

 

 

 

Om hierdie wonderlike stokperdjie selfs meer te bevorder, het SASASA die South African National Scrapbook Day (NSD) geloods as ‘n jaarlikse gebeurtenis waar elke streek in die land ‘n “Crop” geleentheid in hul omgewing reël om fotoplakboekers byeen te bring. In 2017 het 23 plekke en 1500 fotoplakboekers dit bygewoon. In 2018 het dit gegroei na 28 plekke met meer as 1600 dames. Op Saterdag 26 Januarie 2019 was die derde jaar wat NSD aangebied is. Daar was 36 byeenkomste (wat ook tot Namibië en Zimbabwe strek) met meer as 1900 persone wat dit bygewoon het! Meer as 50 winkels was betrokke.

 

 

 

Geborgde pryse het elke byeenkoms selfs meer onvergeetlik gemaak. Elke plek kan hulle eie tema kies vir die NSD. Enkele van vanjaar se temas was terug skool toe, alfabet, vloot, skoenlappers, “cowgirl”, Pretville, reis, blomme, pannekoek & pajamas, denim en diamante, eenhoringperde en kuns in ‘n bottel. Tydens NSD word plaaslike genomineerde liefdadigheidsorganisasies ook ondersteun.  

 

 

 

Anet Swart (Burlap & Butterflies), wat sedert haar aankoms in Kuruman in 2017 fotoplakboekklasse hier aanbied, het vanjaar vir die eerste keer ‘n NSD-byeenkoms in Kuruman aangebied. Dit is by Boa-Fé gehou met die opwindende tema: “Mad Hatters”. Baie ure se voorbereiding was duidelik uit die dekor, waarvan baie met die hand gemaak is uit fotoplakboekpapier. Elke dame het ook ‘n hele drasak vol fotoplakboekbenodigdhede ontvang!

 

 

 

Vyftien dames het die dag bygewoon. Elke dame het ‘n hoed gedra en daar is pryse vir die kreatiefste hoede gegee. Ivy Lourens en Ita Honiball het met die louere weggestap terwyl Hettie Krüger ‘n spesiale toekenning vir beste uitrusting ontvang het. Kuruman het meer as 30 geborgde pryse gehad wat deur die dag uitgedeel is met gelukkige trekkings. Zelda van Vuuren was die gelukkige wenner van ‘n PNA geskenkbewys en Engela van der Walt het ‘n gesogte boek van Scissor Sisters Kaisercraft Kit Club gewen.

 

 

 

Kuruman het die plaaslike Dieresorgvereniging ondersteun deurdat elke dame honde- of katkos saamgebring het die dag. Antoinette van den Heever en Chalene Pretorius het dit namens dié vereniging ontvang.

 

 

 

Almal wat die dag bygewoon het is in ekstase oor al die gratis en bruikbare geskenkies en die geleentheid om na hartelus te kon voorraad aankoop, mekaar te inspireer en idees gee vir beter fotoplakboekbladsye. Die samesyn en kos deur Madri Venter van Boa-Fé was heerlik en natuurlik die kosbare tyd om hul stokperdjie ongesteurd te kon geniet.

 

 

 

Volgende jaar se NSD word reeds beplan vir Saterdag 1 Februarie 2020. Moet dit nie misloop nie! Belangstellendes kan Anet Swart kontak by anetswart@gmail.com of 064 967 2545.