Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

 

Tydens ‘n spesiale raadsvergadering op 15 Februarie 2019, was sommige raadslede redelik verbaas toe die enigste punt op die agenda, wat eers by die vergadering ontvang is, die verkiesing van ‘n nuwe burgemeester was.

 

Na ‘n lang vooraf koukus van die regerende party, het die vergadering toe plaasgevind onder belangstelling van verskeie van hul partylede, asook die ZF Mgcawu distriksraad se Burgemeester van Upington, raadslid Abraham Vosloo en ook die Streeksbestuurder van die ANC Mnr Zamani Saul.

 

Mev Mpho Mashilishili van die ANC is toe voorgestel as burgemeester en deur die party gesekondeer. Daar was geen teenvoorstel nie.

 

In haar intreetoespraak het Me Mashilishili melding gemaak dat dit vir haar belangrik is om die skip uit die probleem waters te help stuur.

 

Sy het melding gemaak van verskeie probleme wat die agteruitgang van die munisipaliteit tot gevolg het – die vullisophoping of -storting in alle gebiede,

 

watertekorte, donker strate en swak straattoestande is deel van die genoemde probleme. Ook is genoem dat elke een nie weet waarvoor hy of sy in sy werksfeer in die munisipaliteit ontplooi is nie. 

 

Die rol van die vakbonde, die direkteure wat in hulle departemente ‘n omdraaipunt moet maak, die kantoor van die burgemeester wat versterk moet word, swak skuldinvordering wat ‘n zero begroting tot gevolg het en in dienslewering reflekteer, die Finansiële Bestuurder wat deur beter finansiële bestuur om dienslewering te bevorder, moet optree, die Munisipale Bestuurder wat die skuld moet monitor – wie die grootste skuldenaars is, wat ‘n verskil kan maak, sal eersdaags alles onder die aandag kom.

 

Jong werkloses moet ook in diens geneem word, die rol van swart besigheidslui vir werksgeleenthede is op die program, het sy gesê. Ook dat ‘n mens moeg is om staat te maak op die myne en sonplase (solar stations) om selfs vir die basiese behoeftes te help voorsien. Daar sal ook op die groeiende mynindustrië staatgemaak word om betekenisvol by te dra tot voordeel van die munisipale gebied se ontwikkeling.

 

Daar is baie wat wag om gedoen te word, het sy afgesluit.

 

Die vorige burgemeester, Mev Maria Daniëls, is toe deur die ANC-raadslede as verteenwoordiger op die distriksraad voorgestel en gesekondeer.

 

In die huidige bestel wat plaaslik ondervind word, word staatgemaak op die uitvoering van die voornemens om die munisipaliteit weer ‘n dienslewerende en vooruitstrewende dorp om op trots te wees, te maak. Met soveel positiewe ontwikkeling en bydraes in die omgewing, en die toesien dat elkeen vir dienste betaal, is dit ‘n binne-bereik ideaal.