Kalahari Aquatics het op Vrydag en Saterdag, 22 en 23 Februarie 2019, aan die jaarlikse NCASA Sprints byeenkoms deelgeneem in Kimberley.
25 lede het uit Kathu en Hotazel na Kimberley gereis om aan die 2 dae lange gala deel te neem.
Die Kalahari swemmers het hulle goed van hulle taak gekwyt en met altesaam 52 medaljes huis toe gekom waarvan 16 goud, 19 silver en 17 brons was.
Van die swemmers het ook daarin geslaag om vir die volgende vlak te kwalifiseer. Agt van die swemmers sal in Sasolburg aan Level 2 gaan deelneem en 4 sal in Bloemfontein aan Level 3 deelneem. Dit sal dan die einde van die seisoen wees waarin die Kalahari kinders uitstekend presteer het. Estian Davel het weereens gekwalifiseer om aan die Junior Nationals byeenkoms in Durban te gaan deelneem terwyl De-Anzo Eilers sy kwalifiserende tyd met net 2 sekondes gemis het.
Meandri de Vos het die seisoen 2 NCASA rekords verbeter wat 14 jaar terug deur Sasha Coetzee opgestel is. Meandri is net 8 jaar oud en het die 100m Borsslag in 1:48.39 afgelê en die 100m Vryslag in 1:27,29. Dit wil gedoen wees.
Baie geluk aan al die swemmers met hulle uitstekende prestasies en ook aan die afrigters, Pierre en Leandri Burger wat voorwaar trots kan wees.
















