Covering Kathu, Kuruman and villages, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounds

Hanteerfoute, weghol oorwinning, naelbyt stryd en die geluksgodin wat geglimlag het was die bestanddele van die wedstryde tussen Rietfontein Gekombineerde Skool en Groblershoop Hoёrskool.

Dit was Rietfontein se eerste (tuis)wedstryd en die senuwees het maar geknaag en die tuisskare het oorwinnings geёis. 

Onder die herfsson wat lekker gebak het, het die o/16 sokkerwedstryd die dag begin. Die gelykop uitslag is nie ‘n getroue weergawe van die wedstryd nie. Rietfontein se doelskieters moet die blaam dra vir die vele verbroude kanse. Bernett de Klerk, die sokker afrigter was versigtig optimisties vir sy span se vordering vorentoe. Hy kan hom op die skouer klop wat hy in ‘n klein tydjie met die spelers vermag het. 

Die 0/16 rugby wedstryd was total ‘n nagmerrie waar Groblershoop Rietfontein vermorsel het. Die 36-0 loesing is ‘n bitter pil om te sluk, want Rietfontein het Groblershoop toegelaat om met hulle te mors. Hulle het lusteloos en planloos teen ‘n goed ge-oliede span voorgekom. Groblershoop het alle fasette oorheers en Rietfontein met die kous oor die kop huistoe gestuur. Romeo Camm, Mario Kroon en Hilary Eiman het hul hande in die verloorspan opgesteek.  Die Rietfonteinspan speel vanjaar die eerste keer in die liga en daar word gehoop dat dit vorentoe beter sal gaan. 

Rietfontein se o/19 span was ‘n perd van totaal ‘n ander kleur. Hul vreesloosheid, goeie verdediging en lakwerk het hulle die sege besorg. Van meet af wou Groblershoop met hul groter en swaarder spelers die wedstryd domineer, maar die tuisspan het dit geneutraliseer. ‘n Vinnige drie deur ondernemende spel deur Groblershoop het die spoke van verlede jaar weer laat opstaan, maar Jaydin Cloete het die tuisspan in die wedstryd gehou met sy skopvoet. In die skrums en middelveld het Groblershoop Rietfontein kopseer gegee. In die rillerstryd het Earl de Vries (oud-Koedoe speler), Jaydin Cloete (oud-Koedoe & GWKspeler ) Lawrence Claasen en Earvan Vries die vonk gegee en gehelp om die grondslag te lệ vir die oorwinning.

Op 13 April 2019 pak Rietfontein vir Kenhardt Hoёrskool en daar word gehoop die geluksgodin sal aan Rietfontein se kant wees. 

Sokker: Rietfontein en Groblershoop 3 doele elk. Rugby o/16: Groblershoop 36 (6 drieё en 3 doelskoppe) – Rietfontein 0. Rugby o/19: Rietfontein 16 (2 drieё en 2 strafskoppe) – Groblershoop 15 (3 drieё).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *