Op Vrydag, 24 Mei 2019, het nagenoeg 80 mense die boekbekendstelling bygewoon van Mnr Kudu Smit.
Sommer met die intrapslag word daar aangedring op handtekeninge! Daar is 75 boeke met die boekbekendstelling verkoop. ‘n Totaal van 250 boeke is gedruk. Boeke is steeds by Mnr. Kudu te koop teen R50 elk: 082 943 2603.
In hierdie boek verskyn sy Facebook-plasings vanaf 21 September 2017 tot 20 September 2018. Uitgegee deur ATKV Kathu-tak.
Die omslagillustrasie is gedoen deur Linda Visser van Deben. Skrywersfoto en samestelling: Hettie Krüger. Gedruk en gebind deur Groep 7 Drukkers. Buitebladontwerp deur ATKV Hoofkantoor.
Anel Marais van @ The Deli se smullekker eetgoed was weer uit die boonste rakke!
Ernalize du Toit skryf die volgende oor Mnr Kudu Smith van Laerskool Kathu:
‘n Onderwyser met meer as 30 jaar ondervinding het ongetwyfeld hare op sy tande, Job se geduld en senuwees van staal.
Ter viering van Mnr Kudu Smit se dertigste jaar by Laerskool Kathu het die ATKV-tak van Kathu (wat ook hul twintigste bestaansjaar vier) besluit om ‘n boek met sy unieke skryfstukke uit te gee. Soggens vyfuur sit sy aanhangers kiertsregop en gereed om te kyk wat hy op Facebook gaan kwytraak. Hy lewer kommentaar op enigiets van aktuele sake tot grappies en die mense wat hy in die plaaslike winkelsentrum raakloop. (Laat sak maar byvoorbaat jou neus, anders gaan hy jou ongetwyfeld ráákskryf in sy werk!)
Die leerders wat die afgelope 30 jaar deur sy hande is, kan die staaltjies inryg oor hom. Hulle weet wat hom kwaad maak en hulle weet wat hom van opgewondenheid laat bewe. Voor hy in die onderwys was, het hy nooit geweet hoeveel kinders ‘n mens in jou hart kan pas nie. Almal is dit eens: Hy is ‘n onderwyser sonder gelyke. Dit is ook daarom dat hy in 2017 verras is deur ‘n kameraspan van Kwêla toe van sy oudleerders hom as inspirerende onnie genomineer het. (Die kameraspan moes blykbaar bontstaan met hul klanktoerusting naby hom.) Hy is luidrugtig, ongekunsteld, onkonvensioneel en sonder fieterjasies.
Mnr Kudu se taalgebruik en skryfwerk is eiesoortig, kleurryk en flambojant soos sy persoonlikheid. Sy skryfwerk is allerhande verhale, sêgoed en staaltjies wat met mekaar vervleg word in sy unieke Kalahari-taal, skryfwerk en spelling. Hy sê ‘n ding soos hy is en noem dit waarskynlik op die naam. Hy huiwer nie om ‘n mengelmoes van onderwerpe en gedagtes in een skryfstuk te takel nie. Sy skryfwerk wemel van humor en is geskryf met die tong stewig in die kies. Lesers kan agterkom dat hy ‘n fyn waarnemer van die lewe en van mense is.
Die inhoud van hierdie bundel dek ‘n verskeidenheid van onderwerpe. Daar’s aweregse huweliksraad in “Pêrrekoop”, hy bespreek die lot van arm onderwysers in “Werk en geld” en hy vat die nimmereindigende lengte van Januariemaand vas wat lesers maar alte goed ken. Hy het min ooghare vir mense wat opstêrs is. Heilige koeie bestaan nie vir hom nie. Hy skryf in “So gemaak en so gelaatstaan”: Nou wat het ma-en-pa-goet gedoen om verveeltgeit teen te werk doeityd voorlat teevee en internet gekom het. Ek’t my sewe broers en vier susters ook gevra en hulle weet ookie.
As jy Mnr Kudu persoonlik ken, sal hierdie bundel vir jou ‘n kykie op die gul hart gee wat jy reeds oor die jare ervaar het. Wanneer hy eendag aftree, kan hy met leiding en mentorskap oorweeg om kortverhale en sketse te skryf, want al sy jare in die onderwys het ongetwyfeld gesorg vir ‘n ryke skat van ervaring en belewenisse. ‘n Boek met skoolstaaltjies is beslis sy voorland.
Mnr Kudu is een van daardie mense wat jy nie kan miskyk wanneer hy ‘n vertrek binnekom nie en jy gaan hom waarskynlik hoor voordat jy hom sien. Bowenal gaan die gange van die Laerskool Kathu nog lank weergalm met onthou-jy-nogs nadat Mnr Kudu eendag uitgeklok het. Maar tot dan, gaan hy nog menige laerskoolleerder (en Facebookleser) se lewe verryk met sy kennis, lus vir die lewe en onblusbare entoesiasme. Sy skryfwerk fluister nie, dit BULDER!
















