VLV-lid hardloop vir liefdadigheid
Karin van der Walt is sedert 2016 ‘n lid van Kuruman VLV-tak. Sy is gekeur om deel te wees van ‘n groep van vyf dames wat 200km gehardloop het. Van die Drakensberge af Durban toe.
Hierdie reis het vanaf 26 tot 28 November 2020 plaasgevind as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek wat deur die Akanani Sport, Recreation and Development Group van stapel gestuur word. Die doelwit is om R250 000 in te samel om vir 20 studente die geleentheid te gee om ‘n AgriSkills-kursus te kan voltooi.
Dit was die eerste keer dat Karin 200km aangepak het. Sy beskryf haarself eerder as ‘n hardloper as ‘n atleet.
Karin het voorheen gedien op die raad van Atletiek Gauteng-Noord, Atletiek Suid-Afrika spanbestuurder, Gauteng-Noord spanbestuurder en sy was ook die eienaar van Bashewa Athletics Club.
Sy het atlete na marathons geneem en terwyl hulle die 42km hardloop, het sy begin om die 21km te hardloop, eerder as om heeldag in die warm kar te sit. Dan is sy boonop betyds klaar om hulle by die wenstreep af te neem.
“2020 was ‘n jaar wat my verander het,” sê sy op Woensdag 11 November 2020 tydens Kuruman VLV-tak se jaarafsluiting by Boa-fé.
Sy skryf die prestasie toe aan 2020 en die wonderlike geleenthede, soos virtuele marathons, wat dié vreemde jaar teweeggebring het.
Op 3 Oktober 2020 het Karin die Run/Walk for Life-klub in Kuruman gestig. Die stigting van dié klub het tot gevolg gehad dat Colleen McNally, Voorsitter van Road Running Central Gauteng vir Karin genomineer het om aan die Akanani Charity Run deel te neem. Daarom sê Karin: “Eintlik is hierdie ‘n bakgat jaar!”
Die Run/Walk for Life-klub in Kuruman, bestaan uit omtrent 99% stappers en 1% drawwers. Karin sê: “Dit is ongelooflik om vir die eerste keer in my lewe geen druk te hê nie. Ons stap as ons wil stap. Jy kompeteer slegs teen wie jy gister was.”
Die klub kom drie maal per week – Maandae, Woensdae en Vrydae by Hoërskool Kalahari se gronde bymekaar. Karin stap elke tree saam met elke persoon en probeer almal so veilig as moontlik hou.
Sonja Thomas-Hayes sê: “Ek het by Run/Walk for Life in Kuruman aangesluit en is nie ‘n oomblik spyt nie. Afgesien dat Karin van der Walt ‘n super leier is, is dit die aangenaamste vroue wat aangesluit het. En ek het met die ingesteldheid aangesluit: Ek is my eie kompetisie. Dit is ongelooflik lekker om myself aan myself te bewys en beter en fikser te word. Ek het nooit gedink dat 2020 my jaar gaan wees van begin oefen nie!”
Vanaf 16 tot 21 November 2020, het lede (en nie-lede) van die klub deelgeneem aan The Progressive Marathon. Die uitdaging is om 9km, 21.1km of 42.2km oor ses dae te voltooi. Die afstand wat jy kies is dus in 6 gedeel, die ses dae. Jy moet dan op die ses agtereenvolgende dae elke dag daardie klein afstand voltooi. Elke deelnemer het ‘n medalje ontvang.
Kontak gerus vir Karin by 065 390 9944 of kuruman@runwalkforlife.co.za om by die klub aan te sluit.
















