Laerskool Kathu se 2020 prysuitdeling
Laerskool Kathu is ‘n skool wat nog nooit teruggedeins het vir uitdagings of moeilike tye nie.
Vanjaar was geen uitsondering nie, maar Laerskool Kathu het in uitsonderlike tye bewys dat hierdie stelling beslis nie ‘n oordrywing is van ons skool nie. Die Covid pandemie het nie net ontwrigtings in ons alledaagse lewens teweeggebring nie, maar ook die akademiese jaar van duisende leerders ontwrig. Laerskool Kathu het alles moontlik gedoen om die ontwrigting tot ‘n minimum te beperk en terselfdertyd nog steeds gehalte onderrig verseker.
Die verslapping na Vlak 1 het verseker dat ons skool se Prysuitdeling vanjaar kon plaasvind. Die formaat moes egter aanpas by die Covid maatreëls en regulasies. Laerskool Kathu roem hulself daarop dat hulle die veiligheid van die leerders, ouers, onderwysers en alle rolspelers eerste stel. Derhalwe is slegs toekennings vir graad 3 tot 7 oorhandig en slegs aan die top 20 beste persentasies behaal in elke vak. Die toekenningsaande het vanaf Dinsdag, 17 November tot Donderdag 19 November gestrek in verskillende tydsones om te hou by die Covid regulasies.
Die streng maatreëls het egter nie beteken dat daar enige tekort aan swier en prestige tydens die toekenningsaande was nie. Die skool het behoorlik uitgehang om elke leerder spesiaal te laat voel.
Die VRL vir 2021 is ook aangekondig, asook die hoofleiers vir 2021: Kelly-Joe Willemse – Hoofdogter 2021, Aiden Cloete – Hoofseun 2021, Danichia Engelsman – onderhoofdogter 2021 en Wian Brink – onderhoofseun 2021.
Die volgende leerders verdien spesiale vermelding: Graad 3 Veelsydigste leerder – Mieke de Villiers, Sportvrou van die jaar – Alliene van Rensburg, Sportman van die Jaar – Damian Smit, Veelsydigste sport leerder – Damian Smit, Veelsydigste leerder – Alliene van Rensburg en Dux leerder – Minke Badenhorst.
Die skoolhoof het sy dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir hul volgehoue ondersteuning en toewyding teenoor ons skool. Sonder hul hulp sou ons beslis nie die uitdagings van 2020 die hoof kon bied nie.Die skool bedank ook al ons borge wat die Prysuitdeling moontlik gemaak het en wens ons skoolgemeenskap ‘n geseënde Kersgety toe en ‘n voorspoedige 2021.
















