Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Kathu Voortrekker Kommando hou Prysuitdeling!

Kathu Voortrekkers het op 12 November 2020 hulle jaarlikse prysuitdeling gehou.

Die aand het gesorg vir groot opwinding. Offisiere, Heemrade, Verkenners, Penkoppe, Drawwertjies en ouers het wind en weer trotseer en soos ware Voortrekkers, windverwaaid en in goeie gees, hierdie baie spesiale geleentheid bygewoon.

Die Kathu Kommando is een van baie min Kommandos wat bevoorreg genoeg was om wel ‘n Prysuitdeling te kon hou. Die geleentheid was gehou op die gras by die Kathu Perdeklub en Covid-19 maatreëls is gevolg vir sulke geleenthede.

Die prysuitdeling is ‘n baie spesiale geleentheid waar Jeug en Volwasse lede erkenning kry vir al hulle harde werk deur die jaar. Jeuglede bestaan uit die PD’s (kort vir Penkoppe en Drawwertjies, graad 1-7) en Verkenners (graad 8-12). Lede kry erkenning vir al die spesialiasies wat hulle deur die jaar behaal het. ABC toekennings word toegeken en die tipe toekenning word bepaal deur die aantal punte wat ‘n lid deur die jaar geakumuleer het. Hierdie punte word toegeken vir elke Kommando aktiwiteit, kampe en kerkdienste wat bygewoon is en deelname aan spanbyeenkomste. Volwasse lede kry ook erkenning vir die aktiwiteite en kursusse wat hulle deur die Voortrekkers voltooi.

Daar is ook ‘n hele paar nuwe lede verwelkom en hierdie lede is dan ingelyf as volwaardige Voortrekkers. Daar is 32 PD’s, 7 Verkenners, 2 Heemrade en 2 Offisiere. Baie welkom aan julle en ons vertrou dat julle Voortrekker loopbaan lank en vol avontuur sal wees.

2020 met sy unieke uitdagings het ‘n baie spesiale Covid-19 Kenteken gehad, eksklusief vir hierdie jaar. Die PD’s, Verkenners en Volwassenes het elk onderskeidelik ‘n werkboek gehad wat ouderdom-spesifiek was en voltooi moes word. Hierdie werkstuk/boekie het al ons Voortrekkers baie meer geleer oor die pandemie en was vir elke lid baie verrykend. Daar is Covid-19 kentekens toegeken aan 44 PD’s, 10 Verkenners en 10 Offisiere. Welgedaan Vories!

Al was dit ‘n baie uitdagende jaar met min kontak spanbyeekomste het die jeuglede baie hard gewerk aan hulle Graadwiel werk asook hulle kentekens. Die PD’s het altesaam 94 kentekens verwerf en die Verkenners 32. Die Kathu Kommando Dagbestuur is baie trots op die Vories wat te midde van hierdie unieke omstandighede baie mooi uitgeblink het.

Die graad 1 Swaeltjie Span het vir ‘n tweede keer in ‘n ry algehele “Span van die Jaar” gewen. Hulle het ook 6 kentekens gedoen naamlik Junior Kok, Dias, Padveiligheid, Selfsorg, Covid en Kind van Jesus. Baie geluk aan die Swaeltjies wat so hard werk. Ons is baie trots op julle!

Die Kathu Kommando Dagbestuur wil baie dankie sê vir elke ouer, jeuglid en volwasse lid wat hierdie jaar moontlik gemaak en so baie gedoen het vir die Voortrekkers te midde van ‘n baie uitdagende jaar. Mag julle almal ‘n heerlike feesgety geniet saam met geliefdes en almal volgende jaar weer saam met ons nuwe avonture aanpak. Hou Koers!

 

FOTO1: Die graad 1 Swaeltjie Span: 1) Andrè Louw, 2) Ayden Anderson, 3) Ruben van der Westhuizen, 4) Joubert Martins, 5) Anmari Coetzee, 6) Nig Endri van Vuuren, 7) Hayden Jordim, 8) Phillip Poolman, 9) El-Danè Pretoruis, 10) Josua van Vuuren, 11) Heinrico Heunis, 12) Lizené van Heerden en 13) Rosemary Jacobs.