
Min mense verstaan rymklets (rap) en baie dink dis vuil, neerhalende straatmusiek met ‘n bende konnotasie.
Vir ‘n jong woordkunstenaar in die hart van Namakwaland is rymklets egter ‘n hartsaak omdat sy woorde van binne kom en ‘n prentjie skets van baie mense se alledaagse uitdagings.
Ruark Cloete (33) bekend as G-Ruack in Bergsig, Namakwaland, het onlangs sy rymklets debuutalbum, ‘Colorful Stories’, bekend gestel. Rymklets is vir Ruark ‘n ernstige saak omdat sy liedjies hul oorsprong vind in sy alledaagse waarnemings en uitdagings wat die lewe soms bied. Op ‘n baie jong ouderdom het hy sy inspirasie gekry by veral Amerikaanse hip-hop kunstenaars omdat hy die dieper boodskap in hul werk begin verstaan het.
Rymklets is baie meer as net garbage musiek, want dit dra ‘n dieper boodskap oor, vertel Ruark opgewonde. Hy vertel van die uitdagings in Namakwaland waarmee veral jongmense worstel en hoe hy ‘n veilige tuiste vind in sy digkuns. Hy hanteer ook die tegniese versorging van sy musiek in ‘n beknopte kamer waar vers, klank en beeld saam gevoeg word tot ‘n unieke kunswerk wat al ook op Kyknet gebeeldsend was. Sy eerste CD bestaande uit 12 snitte en een werk van ‘n vriend uit die Karibiese eilande is ‘n bewys van die talent in veral bruin gemeenskappe waar jongmense deur sosiale euwels soos werkloosheid en dwelms oorweldig word.
‘Colorful Stories’ is die pennevrug van Ruark geskep in sy kamer wat hom amptelik as skrywer en digter op die map plaas met ‘n professionele produk wat deurwinterde kunstenaars sal laat kopkrap. Rymklets is digkuns wat met ‘n ritmiese polsslag (beat) ondersteun en afgerond word. Luister jy na sy werk leer ken jy hom as ‘n gewone mens wat ook die bitter en soet van die lewe ervaar het. Sy werk weerspieël verskillende kante van die lewe waarmee alle mens kan assosieer. Met ‘n vars klank dwing G-Ruack se werk die luisteraar fronsend tot ‘n dieper insig en bewuswording van mense se uitdagings. Sy werk is hoofsaaklik in Afrikaans en deurvleg met Namakwaland en Kaapse dialek wat veral aanklank vind by ‘n jong mark in beide Wes-Kaap en Namakwaland. ‘Colorful Stories’ bring inderdaad ‘n vars bries tot die Afrikaanse musiek en veral rymklets wat nog onbenut lê by bruin kunstenaars. Colorful Stories is inderdaad ‘n produk van Ruark se harde werk en kinderdroom wat vlerke gekry van ‘n Namakwakind wat bewys het dat armoede hom nie sal pootjie nie.
“Ek is Kaaps-Namakwalands, want my ma is ‘n Bolandse nooi en my pa ‘n Namakwalander.” Ruark het in die Methodiste kerk groot geword en kom dus uit ‘n gereformeerde Christelike agtergrond waar sy tipe musiek nie juis as aanvaarbaar beskou was nie. Sy tante was ‘n skrywer en sy ma is baie lief vir sang en sy ouma was voorsangers in die kerk, maar hy is die enigste artist in die familie wat dit so ver gemaak het. G-Ruack is ‘n stem wat beslis gehoor moet word.
















