Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Strome van seën na lang tyd van droogte

Mimi Swart

Inwoners, besoekers, boere, diere, plante, die natuur – alles is meegevoer deur die metamorfose wat hoofsaaklik teen die einde van 2020 ingetreë het, nadat reën sommige dae en nagte onverpoosd geval het.

Persone wat onlangs inwoners van ons dorp geword het en duidelik skepties gestaan het as aan hulle vertel is dat die Vlei deur die dorp soms afkom en dat Postmasburg ook reën kán kry, kyk met nuwe oë na hul tuiste in dié stowwerige dorp.

Sedert 26 Desember 2020, is daar 200 mm aangeteken in die dorp (klein variasies kom voor in verskillende dele van die dorp). Ook die omliggende areas en plase berig met opgewondenheid oor die hoeveelheid wat daar gemeet is en hoe welig die veld en natuur daar uitsien.

Vanaf 20 Desember tot 11 Januarie 2021 het die grootste deel tusen 150 – 220 mm gehad. Die suidwestelike streek by Witsand/Volop staan nog effens agter in die ry en hoop dat hul ook nog “in die reën gaan dans”.

Strathmore van mnr Johan Lambrechts, in die Papkuil rigting, was gelukkig om in November reeds 152 mm te kry, in Desember 196mm en tot 9 Januarie reeds 138mm. Piccadilly van Mnr Werner Kleynhans Daniëlskuil – Kurumanpad het sedert 14 Desember 300 mm gemeet. Humansrus van Allan Scholtz het vir Desember en Januarie sover 230 mm gemeet. Paardepan van mnr Jaco Kartsten 60 km in die Griekwastad rigting, het vanaf November 150 – 200 mm gehad; mnr John Daniel van Lucasdam (die afgelope week 130 mm) en Vaalkoppies het sedert November 300 mm gemeet; mnr Willie Uys van Lomoteng, in ‘n westelike rigting, het sedert 01 November 350 mm gehad; die grasveld is ‘n lushof op die plaas.

In die dorp- en ander woonareas is egter heelwat waterskade aangemeld: Paaie in die dorp is erg verspoel en water het by van die huise ingeloop. In Boichoko het die strate ook deurgeloop, soos ook Newtown, Maranteng, Carnation en Postdene was daar ‘n oormaat water. Toerusting moes georganiseer word om hulp te verleen. Vanaf die grootpad na Skeyfontein woonbuurtes was die deurgangbrug weer onder water en was die inwoners ‘n tyd lank van die dorp afgesny.

Hierdie ontberings was ongerieflik, maar die dankbaarheid oor die lewegewende reën oortref alle klagtes. Dit blyk dat die 11 jaar-siklusse wat die dorp periodiek ervaar, wanneer die Vlei sy loop deur die dorp neem, toon dié jaar al tekens, maar is nog nie in sy volle vloed soos al ervaar is nie.