Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Die naam William Jarvis is sinoniem met gemeenskapsopheffing en terugploeg in ‘n vergete gemeenskap net buite Postmasburg.

Jenn Haven, sowat 25 km buite Postmasburg, het in die laat 1990’s ontstaan as gevolg van ‘n gedwonge verskuiwing van die Khosis landelike gemeenskap weens die groei van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se Lohatla militêre Leergevegskool Opleidingsbasis in die Khosisgemeenskap.

Volgens geskiedkundige bronne het dié onderhandelinge vir verskuiwing reeds in die 1800’s begin. Verskeie gesinne was genoodsaak om te trek, asook kleinboere wat lappies grond buite Postmasburg gehad het. Dit was die ontstaan van die Jenn Haven gemeenskap wat vernoem is na die destydse skoolhoof op Khosis.

Van toe af het die Jenn Haven gemeenskap aan die agterspeen gesuig wat betref ekonomiese ontwikkeling en sosiale investering. Die jongmense van hierdie vergete gemeenskap voel nie eens die ekonomiese opbloei in Postmasburg weens die grootskaalse mynontwikkeling rondom dié myndorp nie.

William Jarvis, ‘n kind van die destydse Khosisgemeenskap, wat die gedwonge verskuiwing van die Khosisvolk heftig teengestaan het in die middel 90’s en selfs op SAUK-nuus verskyn het destyds, was die grootste deel van sy lewe betrokke in die politiek en kyk terug na verskeie eerbewyse en toekennings vir sy rol ten opsigte van gemeenskapsopheffing, veral in die Ekuruleni-distrik. Nou, afgetree op sy plaas buite Jenn Haven, ploeg hy terug in hierdie vergete gemeenskap waar jongmense geen visie het nie en raadslede se betrokkenheid slegs op papier realiseer.

Vir die afgelope 3 jaar het Mnr Jarvis verskeie opheffingswerk gedoen onder andere die opgradering van die gemeenskapsaal en kliniek, asook die skool, met die hulp van verskeie borgskappe en plaaslike myngroepe wat uiteindelik ingekoop het in sy visie. Met die hulp van verskeie rolspelers kon Mnr Jarvis en sy komitee weereens vir die bejaardes van Jenn Haven ‘n jaareindfunksie reël waar kospakkies oorhandig is, asook vleis uit sy eie vee aan sowat 45 senior burgers van die gemeenskap gegee is.

Die afgetrede skoolhoof van Laerskool Khosis in Jenn Haven, Juffrou Magrieta Murray, het Mnr Jarvis en sy span bedank vir hierdie bydrae tot die gemeenskap en die erkenning van bejaardes se nalatenskap tot Jenn Haven. “Ons het meer sulke engele nodig in hierdie gemeenskap,” het Juffrou Murray gesê. In haar bedanking het sy Mnr Jarvis bedank vir sy rol tot opheffing van die gemeenskap.

Ten spyte van sy eie uitdagings en sy eggenote se swak gesondheid, ploeg Mnr Jarvis steeds terug in Jenn Haven en offer hy sy eie tyd en brandstof op as pensioenaris om van Jenn Haven ‘n beter gemeenskap te maak.

In sy toespraak het hy veral raadslede en kontrakteurs van plaaslike myne uitgedaag om hul sosiale en maatskaplike verantwoordelikheid tot die algehele opheffing van Postmasburg en omliggende dorpe na te kom. “Politieke leiers en raadslede moet net hul mandaat uitvoer,” het Mnr Jarvis gesê. Plaaslike myne word bedien deur baie kontrakteursmaatskappye wat niks terugploeg in die opheffing van Postmasburg nie. Volgens Mnr Jarvis moet hierdie mynhuise veral na hul beleide gaan kyk wat betref die kontrakteurs se verantwoordelikhede om terug te ploeg en sodoende uiting te gee aan die waardes van die Mynhandves. “Enkele kontrakteursmaatskappye ploeg wel terug, terwyl die res arms gevou staan en die dorp stelselmatig agteruitgaan,” aldus Mnr Jarvis.

Mnr Jarvis en sy komitee bedank ondere andere vir Kumba Iron Ore se Kolomela Myn wat werklik gestalte gee aan hul beloftes om Postmasburg op te hef. Ook Kele Mining Solutions, Shoprite en PicknPay en enkele opkomende gemeenskapslede wat gehelp het om hierdie funksie moontlik te maak.

Mnr Jarvis bedank ook graag sy vrou Carol vir die groot rol wat sy in sy lewe speel om sy passie in sy gemeenskap uit te leef.

Horison Media

 

FOTO: William Jarvis by die onlangse waarderingsfunksie vir bejaardes in Jenn Haven net buite Postmasburg.