Met die unieke uitdagings van Covid-19 op openbare skole en die uitdagings van onderwys in Suid-Afrika, soek meer en meer ouers na alternatiewe en veilige onderrig vir hul kinders.
In Postmasburg het ‘n visionêre jongman besluit om sy vlerke te sprei en sy eie privaat skool oopgemaak wat groot belofte toon vir groei.
Jaco Lategan (25) is ‘n trotse produk van tuisonderrig en het reeds in 2018 sy eie skool oopgemaak. Crusty Crabs wat deel is van ‘n groter maatskappy in Suid-Afrika wat hoofsaaklik op tuisonderwys fokus het met twee leerders begin wat hul seniorsertifikaateksamens onder Lategan voltooi het. Crusty Crabs het nou 15 leerders en groei elke dag.
Die onderrigmodel by Crusty Crabs verskil in wese van openbare skole met oorvol klasse waar leerders met potensiaal in die massa verdwyn. Crusty Crabs slaag in hul pogings om individuele en spesiale aandag aan elke leerder te gee in ‘n gemaklike, huislike atmosfeer waar leer speel-speel plaasvind.
Lategan kyk nou na uitbreidingsmoontlikhede weens die geweldige groei van sy skool. In net twee jaar kon hy in beide Olifantshoek en Postmasburg twee suksesvolle skole op die been bring en lewer leerders wat beslis uitvoerprodukte is. Twee plaaslike modelle, Annalè Vermeulen en Logan Venter kom uit Crusty Crabs waar hul potensiaal raak gesien is. Beide modelle het tans gevestigde kontrakte met internasionale modehuise – ‘n bewys dat Crusty Crabs leerders help om gestalte te gee aan hul drome.
FOTOT: Jaco Lategan (ver links) tesame met ‘n groep leerders op hul eerste skooldag vir die 2021 akademiese jaar op Maandag 25 Januarie 2021.
















