Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Dorpsaangeleenthede van belang

REëN: Net toe die bolaag begin droog word, gebeur dit weer – sagte, aanhoudende reën val; ook oor ‘n groot deel in die Noord-Kaap. Die kommer dat vlak 4 van die ontwrigtende reënval wat Mosambiek en nadergeleë gebiede getref het, is inderdaad ’n gevaar; veral omdat die aarde deurnat is na vorige goeie reën.

‘n Tabel wat deur  die Weerburo in Bloemfontein vir die tydperk 27 tot 29 Januarie uitgereik is en deur die Munisipaliteit plaaslik deurgegee is, dui die impak in die verskillende Munisipaliteite aan. Waarskuwings en aanbevelings is deurgegee.

26 Januarie 2021: Deur die dag en tot en met  00:00 nag, het  sagte deurdringende reën geval – 25mm is gemeet. Die reëntempo gaan  tans om 04:00 onverpoosd voort.

 

VUURWAPEN AMNESTIE VERVAL 31e:  As u dié kennisgewing ( wat oral by herhaling uitgereik is) lees, is daar min tyd Vrydag oor om u ongelisensiëerde vuurwapen se amnestietyd, wat op 31 Januarie 2021 verval, na te kom.  (31e is Sondag maw. u sal op Vrydag 29e by sers. Deliwe Monnanyane  sel. 082 423 2201 van die Vuurwapenafdeling by die SAPD  moet uitkom). 

Alle onwettige  vuurwapens  en ammunisie in u besit, kan ingehandig word sonder vrees om vervolg te word – tot dié datum.

 

LIGTE, KRAG, RIOLE, PAAIE, WATER:

WATER – Die Boichoko area het op 21 Januarie ‘n wateronderbreking van 5-ure gehad weens gebarste pype.

 

Enkele positiewe aksies word waargeneem. In sommige strate is begin met die installeringsprogram van straatligte. Dit sal ‘n uitgebreide aksie moet wees omdat min strate enige ligte (gloeilampe het) wat werk. In Wes-Einde is die gebrek an groot straatligte ook ‘n wesenlike gevaar vir inbrake en diefstal.

Die krag was op 26 Januarie 2021 vanaf 07:00 tot 17:00 in ‘n deel van die dorp  afgeskakel om ‘n mini-substasie in die Telkomgebou in  Hoofstraat te installeer. Enkele strate in die gebied was geaffekteer – moontlik was die aksie ten goede.

 

SAPD-KANTOOR: (Sien foto). Die nuwe naambord, wat die wankelrige een van dekades vervang het, laat die geboue sommer meer professioneel daar uitsien. Die haasbek een waaroor so gekla is omdat verskeie letters mettertyd afgeval het, is verwyder en die nuwe pryk in sy plek. (Moontlik sou ‘n telefoonnommer daarby gepas gewees het – of moontlik verander die nommers  gereeld…)

 

RIOOLVERSTOPPINGS : Weens verstopte dreineringsafvoerslote beland ongewensde artikels in rioolstelsels wat die afvoerwater in werwe laat opdam. Die goeie reënsituasie vererger die probleem en inwoners meld hierdie ongerief aan as hul kniediep in hul erwe moet beweeg.

 

STRATE: Hierdie afdeling bly ‘n groot kommer vir motoriste en voetgangers. Verspoelde strate en diep gate vol water maak dit uiters gevaarlik om dit in die strate te waag.  Inwoners aan die Wes-Einde kant moet óm die dorp, met die Kimberleypad om ry as hul die besighede wil besoek.

Tydens navraag oor die toestand het die Direkteur Tegniese afdeling gemeld dat die herselingsmateriaal ingewag word. Die mening is egter deurgegee dat vele van die probleme in die strate deur fisiese betrokkenheid /werk herstel behoort te word. ‘n Kundige herstelprojek behoort gevolg te word wat meer permanente resultate sal oplewer. ‘n Padskraper waaroor die Munisipaliteit oor jare heen nie beskik nie, bly ook ‘n onontbeerlike leemte wat ‘n groot verandering kan meebring.

 

Bogenoemde aangeleenthede word deurentyd deur die DA-raadslid, Mimi Swart, onder die aandag van die verskillende departemente gebring. Skakeling

word gedoen, maar dikwels is daar oponthoude soos apparaat en materiaal  wat nie beskikbaar is nie.