Duin in die Weg se buitelug-opvoedingsentrum, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch, het verlede jaar sy derde Jeugleierskonferensie (JLK) vanaf 8 tot 12 Desember 2020 aangebied. Die tema was: “Born for a time like this“.
Skole in die Noord-Kaap kon tot vier benoemde leiers stuur. Die konferensie is bygewoon deur 40 leerders van 12 verskillende skole in die Noord-Kaap.
Die doel van die JLK is om jaarliks ‘n forum daar te stel, waar aangewese graad 12- jeugleiers van die Noord-Kaap se hoërskole voorberei en geslyp kan word in belangrike aspekte van leierskap. Die doel is nie om die skole se eie leierskap-programme te vervang nie.
Advokaat Fef le Roux SC, eienaar van Duin in die Weg en stigter van Noord-Kaap JLK, het almal verwelkom. Die openingsrede is gelewer deur prof Leopoldt van Huyssteen, hoof van die Academy for Environmental Leadership SA (AEL) by Uizip, en voorheen HOB en waarnemende rektor van die Universiteit Stellenbosch.
Deelnemers was verder bevoorreg om uitnemende opleiding en mentorskap te ontvang van twee ervare en invloedryke leiers in die Noord-Kaap. Dr Trevor van Louw was voorheen Direkteur van SUNCEP (Stellenbosch University Centre for Pedagogy), en is tans Programbestuurder: Opvoeding by die SIOC Community Development Trust by Kumba Iron Ore in Kathu. Sy vrou, dr Christa van Louw, was voorheen senior direkteur in die rektor se kantoor by die Universiteit Stellenbosch – en is tans ‘n privaat landbou-konsultant en adviseur vir korporasies en industrieë.
Een van die hoogtepunte was Phumlani Sigwaza se gesprek met die groep. As leerderraadslid van die Hoërskool Williston, het hy die eerste JLK in 2018 bygewoon. Tans is hy ‘n tweedejaarstudent aan die Universiteit Vrystaat. Hy het gesels oor die invloed wat die JLK op sy lewe gehad het, en die leiers aangemoedig om groot te droom.
Die konferensie het bestaan uit ‘n verskeidenheid gesprekke, praktiese werkswinkels en buitelug-aktiwiteite om leierskap in te oefen, nl. die hindernisbane (Saamdink en Saamwerk), kanovaart, nagmars, grasspele en bondelsports, “mynveld”, potjiekoskompetisie, konsert, ens.
Almal was dit eens dat vanjaar se groep ‘n uiters talentvolle en besondere groep leiers is, van wie ons baie kan verwag in die toekoms. Ons het werklik rede om te glo dat hul baie suksesvol gaan wees in die toekoms. Ons salueer ook elke onderwyser en ouer wat, ten spyte van ‘n baie moeilike jaar, steeds bereid was om die ekstra myl te loop om dit vir hierdie jongmense moontlik te maak om die JLK by te woon.
Die konferensie is as baie positief en suksesvol ervaar deur die leerders en aanbieders. Daarom sal ons baie graag vanjaar hierop wil voortbou, in belang van die ontwikkeling van leierskap in die Noord-Kaap. Skole word aangemoedig om nou reeds plekke te bespreek vir vanjaar se JLK, wat weer in Desember, ná afloop van die eksamen, by Duin in die Weg gaan plaasvind.
Belangstellende skole is welkom om ons te kontak vir meer inligting: Alie Brand – Hoof Uitvoerende Beampte; Duin in die Weg.
















