
Dorpstoestande wat steeds nie aandag kry nie
Sedert middel Desember 2020, het welkome en sagte, deurdringende reën in die gebied en dorp geval. Teen die einde van Januarie 2021, het die reën hier totaal opgeklaar. Gedurende hierdie twee maande het die strate onrybaar geraak – hoofsaaklik weens die defekte wat lankal reeds groot kopsere is en met die reën net meer haglik geraak het. Inwoners het versoeke individueel aan die Tsantsabane munisipaliteit gerig vir aandag en herstel.
Die raadslid in dié gebied, DA Raadslid Mimi Swart, is later ook om hulp genader. Dié onaanvaarbare toestand van die strate, waar dele heeltemal onrybaar is en inwoners dwing word om met die Kimberleypad om te ry om besighede te bereik, het Raadslid Swart reeds met die relevante munisipale bestuur opgeneem. Op 30 Januarie 2021 is ‘n verdere skrywe aan die Munisipale Bestuurder en die Direkteur Tegniese Dienste gerig wat die versoek duidelik aan hulle stel en terugvoer is gevra. Die Direkteur Tegniese Dienste het dadelik reageer en saamgestem met die swak omstandighede. Hy sou op 01 Februarie 2021 terugvoer gee, nadat hy ‘n vergadering met belanghebbendes van onderskeie instansies sou hê.
Ten spyte van drie versoeke aan die Munisipale Bestuurder en dié Direkteur, kon nog geen terugvoer teen 02 Februarie 2021 verkry word nie. ‘n Verduidelikende terugvoer van beplanningsaksies sou die regte stap gewees het om die reeds ontevrede, langafwagtende publiek ingelig te kry en nie in die duister te laat nie. Betalende inwoners van sulke swak of geen dienste nie, sal nou opnuut optrede móét oorweeg.
Wat duidelik opgemerk word, is dat fisiese werk aan die strate en die oopmaak van verstopte waterleidingskanale ‘n noodsaaklikheid geword het. Die vraag is egter, waar is die kundigheid vir effektiewe, langtermyn beplanning ? Die persone aan die stuur wat vir gekwalifiseerde dienslewering groot salarisse betaal word, blyk nie bevoeg te wees nie. Ook finansies vir hierdie uiters belangrike leemtes is nie luukses nie.
Straatligte
Daar is met opgewondeheid gemerk dat enkele strate in die middedorp na ‘n jaar verlig is. Na drie dae was dit weer ‘n donker prentjie. In Wes-Einde is misdaad besig om te eskaleer weens donker strate. Persone wat uit radeloosheid enkele sonkragligte teen baie groot koste geïnstalleer het, se ligte word selfs afgesteel.
Verbindingspaaie gesluit
Postmasburg is in ‘n geïsoleerde situasie en inwoners moet ver afstande aflê om by spesialiste, universiteite en groter dorpe uit te kom. Die aanbevole pad oor Kuruman en Vryburg na Kimberley en Bloemfontein is baie kilometers verder as om oor Daniëlskuil te try en het sy eie struikelblokke met swaar verkeer wat groot vragmotors insluit.
Wat blykbaar’n voldonge feit is, is dat die pad oor Daniëlskuil, met sy vele en intense verspoelings, nie vinnig weer in werking sal wees nie. Die herstelwerk gaan baie tyd en groot finansies vereis.
Covid-19
Sekere beperkings is dié week deur die President verslap. Luister ‘n mens egter na die Covid-19 positiewe aanmeldings en die intensiteit waarmee dié virus gepaard gaan, besef ‘n mens opnuut dat die nuwe variasie niemand ontsien nie, ongeag ouderdom, geslag of ras. Alhoewel byeenkomste van maksimum 50 persone toelaatbaar is, is dit geen vrypas om veilig te wees nie. In dieselfde lokale word vergaderings en byeenkomste herhaaldelik gehou wat ‘n teelaarde vir die virus is. Vermy byeenkomste, hou en dring aan op afstande van 1,6 m, dra ‘n gesigmasker – ook permanent oor die neus en moenie gedurig aan u neus raak nie. Ontsmet u hande effektief. Wanneer u tuis kom met inkopies, ontsmet die omhulsels van die inkopies, asook u skoensole. Plaas u dorpsklere in ‘n emmer met ontsmetmiddel. Dit is hoe ‘n mens veilig probeer bly. Dit is nie paranoia nie, want Covid is skrikwekkend.
















