Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Briewe aan die Kathu Gazette oor die toestand van die dorp

Brief 1: Ons is nie gebore Kathuters nie, maar kom van die Wes-Kaap af.

Die dag wat ons kom huis soek, sê ‘n oud-inwoner vir ons so half verleë – moenie onderlangs kyk nie, maar hou maar eerder bolangs. Dit was ons eerste kennismaking met “die dorp onder die bome”. Ons eerste opmerking: die bome is pragtig, maar die dorp is vuil.

Dit is nou amper 8 jaar later, en dinge lyk nou sleg. Ek het probeer! Rubbish opgetel in ons woonbuurt, in die boomstrook agter ons huis.  Net om weer oor te begin die volgende week.  

Genoeg is genoeg. Dit is tyd vir verandering. Dit begin by my eie huis.  My eie sypaadjie. My woonbuurt. Dit is tyd vir ‘n nuwe begin.

Ons is almal moeg gekla oor ons vuil dorp, moeg om verskoning te maak vir gaste Sondae wanneer ons braai oor die dreinreuk in die lug. Moeg vir gebarste pype en om uit te swaai vir waterlekke en “potholes” in die pad. 

Ons is veronderstel om ‘n bewaararea te wees… Ons bome is ons dorp se trots, maar onder ons bome lyk dit soos ashope. Die negatiwiteit wil my weer vat, maar dan dink ek aan ons nageslag. Wat leer ons ons kinders? Hoe gaan dit oor nóg 8 jaar lyk?

Kom ons bou saam aan ‘n skoner, mooier KATHU!!

Hannerie du Toit 0724660200.

Brief 2: Mens ry verby en ruik hoe die vullis stink, hou beslis nie van hoe dit lyk nie, maar jy dink darem iemand sal dit seker iewers kom skoonmaak.

Volgende week is die hoop net groter. Die week daarna sien jy dit gaan al dieper in die veldstrook in. Dis huisvullis, tuinvullis, gebruikte doeke, dooie diere, ou matrasse.

Ons ry weekliks fiets en letterlik elke week word die hope net groter en meer. En nee, dis nie die asgate waarvan ons praat nie, sommer net vullishope oral in ons dorp. Almal laai af net waar hul plek kry. 

Ek kry skaam dat ons nie vroeër iets hieraan probeer doen het nie, nie vroeër gekla het nie. 

Ons sal as ‘n dorp moet saamstaan om hierdie ding te beveg. Plan moet maak. Nee sies, man! Die riool lê sommer soos ‘n grasgroen dam daar langs die pad. Klein kindertjies speel daar naby, dis mos ‘n gesondheidsrisiko!

As oud-Kathuter kan ek hierdie vieslike vuil nie meer verdra nie. Ek wil weer trots voel op ons dorp. Ek wil nie skaam kry as mense vanaf ander dorpe hier deur ry nie. Basiese goed. Ek besef hier is nie vreeslik baie water nie, maar maak net skoon. Maak net netjies. Ek wil my kinders kan grootmaak in die mooie Kathu wat ek weet hy kan wees!

Annerien Groenewald.

Brief 3: Verandering begin by elke individu, dis ‘n besluit om beter te wees en in beter omstandighede te woon.

Ons kan lankal nie meer op die hulpbronne tot ons beskikking staat maak nie, die taak is net te groot. Ons vra mense (of jou nou al jare hier woon of ‘n paar maande), om Kathu op te pas en dit weer te herstel na die dorp wat dit was en weer kan wees. Neem die besluit, besluit om ‘n voorbeeld te wees vir ons kinders en hulle kinders. Is ‘n rommelbestrooide dorp regtig wat jy vir hulle wil nalaat?

Besluit om beter te wees as die persoon langs jou, wat die aarde wat aan ons deur God geskenk is, wat ons moet oppas, net as vanselfsprekend aanvaar.

Besluit om net ‘n klein verandering te maak, besluit om voor jou eie huis te begin, dit kan ‘n groter verskil maak as wat jy dink.

Annereth van der Linde.

Brief 4: Oud inwoner…

Ek woon reeds 27 jaar in Kathu en dit is ongelooflik hartseer om te sien hoe morsig en vuil ons dorp nou is.

Dit was destyds bekend as die skoonste dorp in die land met die mooiste boomstroke en sypaadjies, wat nou verander het in vuilgoedhope!! Mense gooi hulle vullis en swartsakke tussen die bosse en boomstroke uit.

As mens ‘n klein bietjie respek vir jouself het en omgee vir jou eie en jou medemens se gesondheid, kan jy nie so leef nie.

Asseblief inwoners van Kathu, kom ons maak dit weer die skoonste  dorp in die land.

Jolande van der Merwe.

 

FOTO: ‘n Kollage van die rommel en gemors in die dorp.