Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Kalahari Korrespondent

Hoe kan die inwoners van Rietfontein se menswaardigheid beskerm word as hulle binne die Dawid Kruiper munisipale gebied op ongedienste erwe bly. Daar is geen water, geen sanitasie, geen elektrisiteit of strate nie. 

Water – die belangrikste bron waarsonder lewe nie moontlik  is nie – is nie  eens vir die mense op die erwe beskore nie. Die voorsiening van water is een van die kernfunksies van ‘n munisipale owerheid wat ook as waterowerheid optree. Die Wệreld Gesondheidsorganisasie stel twintig liter water per persoon per dag voor.

Myns insiens maak die munisipaliteit hom skuldig aan growwe menseregteskendings en dit druis in teen die Handves van Menseregte.  ‘n Skrywe, gedateer 18 Junie 2018 is aan die Dawid Kruiper munisipaliteit en aan die Menseregte Kommissie te Upington gestuur.

Die waterowerheid moes sekerlik die waterwet al bestudeer het wat die verantwoordelikheid duidelik uitspel oor watervoorsiening. Ironies genoeg, net ‘n klipgooi verder, gaan ‘n waterpypleiding verby. Waarom kan daar nie ‘n koppeling gemaak word om die mense ook van water te voorsien of waarom word tenks nie opgerig vir watervoorsiening nie ?

Jammerlik is dat die destydse Mier munisipaliteit die ongedienste erwe aan die inwoners verkoop het. Daar is nou ‘n bewering dat erwe gratis aan inwoners beskikbaar gestel is om te okkupeer.  Indien die bewering waar is, is dit ‘n voor verkiesingsveldtog om tog te wys dat daar word vir die massas omgegee word ? Andersyds, herinner hierdie ongedienste lappie grond sterk aan die apartheidsregering se hervestingstrategie van mense om hulle in armoede te laat krepeer . . .

Hoe is die lot van die massas verander met die toekening van die erwe ?  Of moet hulle op dié trant aangaan tot die 2019 verkiesing sodat daar maklike politieke punte verkry kan word ? Wanneer gaan daar weer ordentlike huise vir die massas in Mier gebou word?

Ons publieke verteenwoordigers moet ook geblameer word deurdat hulle sulke vergrype nie aan die groot klok hang nie.  Dit is net jammer dat diegene wat vir die massas moet baklei, net voor verkiesings wakker skrik. 

Daar word ook gewonder waar kry die publieke verteenwoordigers hul agendapunte vir raadsvergaderings vandaan as menseregteskendings reg onder hul neuse plaasvind ?

Weereens was daar geensins wydverspreide eise vir die samesmelting van die munisipaliteite nie en dit skyn asof hierdie aksie toe ‘n totale flater was. Mier inwoners suig skynbaar nou aan ‘n droë speen.