Dorpsinligting wat saak maak
Mimi Swart
Munisipaliteit
Die komiteevergaderings wat ‘n Tsantsabane raadsvergadering voorafgaan, word soms tot met ‘n maand vertraag weens verskeie redes wat strek van die onbeskikbaarheid van komiteebestuurslede met eie programme se oorvleueling. Ook ander belangrike lede van departemente wat teenwoordig moet wees.
Nuwe raadslede
Twee raadslede van die STC, naamlik Alister Davids wie bedank het en Christo Julius wat al meer as ‘n jaar siek is, is vervang met twee nuwe raadslede soos aangewys deur die STC. Henry Beets, was voor sy aftrede aan die Tsantsabane munisipaliteit verbonde, en Mnr. O’Connor – ‘n pastoor. Beide is van Postdene.
Defekte nuwe teerstrate
Die strate, soos voorheen aangekondig wat in die somerhitte gesmelt het en tot groot ontevredenheid van die publiek gelei het, word tans herstel deur die kontrakteurs en die procedure blyk suksesvol te verloop.
Rioolverstoppings
Veral in die Vlei by Wesstraat wat tot slegte reuke onder andere gelei het, het ‘n groot verandering ten goede ondergaan nadat die pompstasie ‘n groot herstelproses ondergaan het. Enkele blokkasies van pyplyne veroorsaak nog probleme, maar die direkteur van die afdeling het sy vinger op die pols met monitering.
Rekeninge word bevraagteken
Nadat daar vir byna ‘n jaar geen rekeninge aan die publiek gelewer is en nou geleidelik normaliseer, is daar groot ontevredenheid as gevolg van foutiewe besonderhede wat die publiek ondervind. Veral mense wat getrou elke maand betaal het, kry bedrae wat vreemd is. Ook eiendomsbelasting ten opsigte van besighede veral, word bevraagteken.
Biblioteke
Die biblioteke in die dorp en ander gebiede is steeds nie oop nie. Die grootste rede blyk die gebrek aan toonbankskerms te wees. Ook in die dorp personeel wat weens Covid-19 onder selfkwarantyn is.
Verkeersafdeling
Verskeie klagtes en skrywes is ontvang van die onbeskikbaarheid, ongerief en gebrek aan hulp van dienste by dié instansie. Dit is na die hoof van die administrasie verwys vir ondersoek. Ook die gebrek aan wetstoepassing in die dorp is opmerklik en word sterk op aangedring.
Covid-19
Bly ‘n bron van kommer weens die styging van getalle in die provinsie. Die oortreding van die basiese voorsorgmaatreëls word oral opgemerk. Hoe en waar dié oortredings vir daadwerklike aandag aangemeld moet word bly ‘n ope vraag.
















