Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Die afgelope twee weke ondervind die publiek wat afhanklik is van water, vanaf die reservoir teen die koppie agter Spar, groot ongerief weens swak druk. Die gebruik van wasmasjiene, besproeiïng in tuine, selfs stort- en badaktiwiteite

het ‘n tydsame proses geword. Daar word verneem dat by sommige huise en besighede géén water beskikbaar was nie.

Omdat geen amptelike kennis gegee is nie, moes die raadslid in die dorp pogings aanwend om agter die kap van die byl te kom.

Die munisipale bestuurder se verduideliking het lig gewerp op die aangeleentheid, naamlik dat die waterdrukprobleem toegeskryf word aan die verbeteringe wat aan die boorgate gedoen word. Die kontrakteur MVD, wat deur die Tantsabane plaaslike munisipaliteit aangewys is en deur Kolomela befonds word, is besig om boortgate wat water voorsien, op te gradeer.

Waterlekke wat egter ook oral opgemerk word, is ‘n bron van kommer. Alhoewel daar aandag aan gegee word, is die gebrek aan ‘n TLB (‘n masjien wat slote kan grawe en oopmaak) ‘n wesenlike probleem wat verhoed dat die probleme effektief opgelos kan word.

Rommel

Op Dinsdag 02 Oktober 2018 het die periodieke rommelstrooiery in die strate weer kop uitgesteek.

Boodskappe is ontvang dat sekere van die munisipale werkers besig was om vullis vanuit die asblikke en houers oral in die strate te strooi. Na wat verneem word, is daar ook rommel gestrooi in ‘n gedeelte van die munisipale geboue.

Van die ontevrede werkers wou die burgemeester sien. Die antwoorde op hulle vrae sou egter van die munisipale bestuurder moes kom. Dié was egter in Kimberley vir ‘n hofsaak van die munisipaliteit wat hy moes bywoon. Die direkteur van korporatiewe dienste het hulle toegespreek waarna hulle uitmekaar is.

Die rommel is toe nie opgetel nie, omdat hulle ná ‘n bespreking met die munisipale bestuurder, op 03 Oktober 2018 tot die opruiming sou oorgaan, word verneem.

Verskeie besighede het die beperkte rommel voor hulle deure dadelik opgeruim en die betydse windjie het meeste van die rommel in die strate op ‘n hoop gedruk.

Die rede vir sekere van die werkers se optrede, word verneem, is omdat hulle aanspraak maak op erwe wat aan hul toegeken sou word asook “upper limits”

en die afwesigheid van ‘n organogram, wat na ‘n lang tyd nog nie in plek is nie.