Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Dorpsnuus  

Mimi Swart

Vinniger as enige vorige jaar het Desember 2020 aangebreek moontlik het Covid-19 en sy onseker en skrikwekkende teenwoordigheid in ons land en ook ons dorp ‘n groot aandeel aan die tydversnelling gehad.

‘n Mens kyk terug na ‘n jaar waarin vele take aangepak is – sommige suksesvol afgehandel ander steeds hangende en met vraagtekens wat ‘n mens nie ‘n mening wil laat waag nie.

Reën

Ten opsigte van reën in die dorp en omgewing is gemoedere oorwegend heelwat ligter aangesien daar periodiek ‘n goeie meevallertjie ontvang is – nie strome nie, maar die situasie is beter as verlede jaar dié tyd. Daar word verneem van plase waar maar nog min uitkoms was, maar ons glo hul kersgeskenk is binnekort op die lys.

Dorpskwellings en knellings

Hier gaan ons net bolangs oor aangesien dit deur die jaar in diepte aandag gekry het; tog is dit relevant en ‘n prioriteit dat dit nie op die langebaan geskuif word nie.

Teerstrate (nuwe)

Dit bly maar ‘n teer sakie. Weekliks sien ons hoe die kontrakteer pogings aanwend om die toestand suksesvol te beredder. Die Munisipale Bestuurder het in ‘n vorige berig egter duidelik die pad uitgestippel hoe die stappe sal verloop om uiteindelik tot ‘n punt te kom waar hierdie aangeleentheid opgelos moet word. Ons hou dop – ten einde sal alle straatgebruikers juig as die strate suksesvol herstel kan word, want die behoefte is baie groot. Ander interne strate se toestand is uiters swak en wag ook op aandag.

Onwettig bou en beset (landgrab) 

Hierdie nuwer gier wat kop uitgesteek het, lei tot baie tydrowende aandag wat bestee moet word deur die verantwoordelike amptenare te midde van hul besige programme. Munisipale wette sal streng toegepas moet word om ‘n uitkringende tendens te verhoed en deur die toepassing van dorpsregulasies, wet en orde te handhaaf. Dit is waarvoor hierdie regulasies daar is. Om sonder toestemming in hierdie patroon te verval, lei tot onvoldoende infrastruktuur, waar rioolblokkasies, onvoldoende kragtoevoer, swak watertoevoer, vullisophoping. Strate is aangelê vir ‘n sekere hoeveelheid residensiële besetting per erf. Onwettige besetting en vele onwettige toevoegings sonder toestemming en inspeksies is redes wat bydrae tot  vele diensprobleme.  

Verkeer bly ‘n kopseer

Die strate wemel van voertuie sonder nommerplate, voertuie wat enige plek parkeer – soms teen verkeer op, soms in geen stopareas en op sypaadjies.Voetgangers kruis strate op enige plek, toeters klink oral asof hul  kersgeskenke gekry het, by kruis in middedorp verstaan sommige lisensiehouers duidelik nie die ry-orde nie. Natuurlik, die vele versoeke aan die verkeersafdeling, om net af en toe kop uit te steek by die groenteverkopery om die draai in Hoofstraat  waar voertuie en taxis onwettig op die draai stop en hul besigheid doen in erge gevaarlike verkeerstoestande, val gewoon op dowe ore. Noodlottige gevolge gaan beslis vir iemand nadelige gevolge hê.

Rommelstrooi

Waarom is daar weer ‘n opwelling ná mooi samewerking ‘n paar maande gelede. Die publiek word gevra om waaksaam te wees om hierdie euwel te help aanspreek en met bewyse te rapporteer. ‘n Ope vraag bly ook waarom die Hoofstraat – aan die poskantoor se kant vanaf die poskantoor tot by die kruis – so bevuil word met rommel. Dit is onhigiënies en onooglik vir inwoners self én vir besoekers. Op ander plekke is die rommelstrooi ook weer aan’t opwel.

Elektriese en waterprobleme

Die probleme kom van tyd tot tyd voor, maar die Tsantsabane plaaslike munisipaliteit se spanne is gereed om vinnig te help. Eskom se probleme is ‘n saak op sy eie.

Waterlekke wat oral opgeduik het, is op 4 Desember in ‘n daadwerklike poging, wat die heel dag geduur het, suksesvol aangespreek toe ‘n TLB gehuur is om die slote te grawe by die probleme. ‘n Eie TLB sal so ‘n groot aanwins wees om hierdie lekke ensovoorts vroegtydig te kan aanspreek. (Na wat verneem word, staan die munisipaliteit se TLB al lank in die werkswinkel aangesien dit nie herstelbaar is nie of nie die groot herstelkoste regverdig nie.)

Covid-19 regulasies

Dit is opmerklik dat voor besighede ‘n trap-apparaat aangebring is – soms ook verbygeloop word – en binne loop baie persone met ‘n  masker wat onder die ken hang of glad nie sigbaar is nie. Sien hulle nie die stygende getalle raak nie ? Die kersseisoen sal na wat verwag word, sy bykomende tol eis. Dit is ongemaklike maatreëls, maar Covid-19 is veel erger. Hier is mense wat kan getuig . . .

‘n Kersseisoen vol vrede, gesondheid, geluk en Sy beskermende teenwoordigheid is ons almal se hoop en smagting in dié Kerstyd wat op ‘n voorafgaande jaar met sy eiesoortige eise volg. ‘n Geseënde tyd vir u almal. Geniet ‘n aangename en welverdiende rustyd.