Reën, skade, goeie vooruitsigte
Mense kan maar net nie ophou praat oor die groot uitkoms wat die afgelope tyd se reën vir die dorp en gebied asook die plase gebring het nie.
Reënmeters staan opgestel net ingeval daar verder reën sal kom. Dorpstuine het in klein oerwoudjies verander en daar word opgemerk dat die snoeiskêr en sae ingespan word om aan die welige groeie vorm te gee.
Opslag en onkruid het ook jare gewag om weer hul slag te wys in erwe, langs strate en oop erwe. Praatjies van slange begin ook die rondte doen, alhoewel nog geen aanmeldings van gehoor is nie.
Strate verspoel
Die reeds swak interne strate met slaggate het nou frustrerende en gevaarlike afmetings aangeneem, aangesien hulle vol water staan en motoriste
onverwags in probleme laat beland. Selfs in die Hoofstraat, wat baie verkeer dra, om die draai voor Sentrale Slaghuis en Fresh Kafee, is diep gate wat die voertuie sleg benadeel.
Grondstrate, wat nog volop is, is so verspoel dat slegs inwoners van dié strate dit daar waag omdat hul geen ander keuse het nie. Finchamstraat met sy afvoerwatersluis in die middel van die straat (tussen twee huise deur) het byna ‘n onbegonne toertjie geword om te gebruik. So ook Daan Vogesstraat wat woorde nie kan beskryf nie. Aanmeldings vroëer het nog nie vrugte afgewerp nie, maar sal na die waterskade aangespreek moet word. By navraag aan die munisipale bestuurder van Tsantsabane plaaslike munisipaliteit oor die geregtelike optrede teen die kontrakteur van die teerpad gee ek sy direkte woorde : ‘’The lawyer advised that we put him on terms and then we terminate based on his failures.”
Die “nuwe veelbesproke (en langverwagte) teerpad” wat tydens sonskynweer sy defekte gewys het met teer wat smelt en aan alles vasklou, het nou finaal sy kwesbaarheid getoon. Groot gate en weggekalfde rande is oral sigbaar. By Makoudam in die Vlei is die teerlaag weggespoel – teleurstelling is by die gebruikers van die besige pad, wat daar vir ‘n rukkie redelik gerieflik op kon gery word, te bespeur.
Beurtkrag
Beurtkrag steek toe weer onverwags kop uit en sommige het dit nogal ongerieflik in die nat situasie gevind. Boonop gee Eskom aan Tsantsabane munisipaliteit sy skedules deur en soms verander dit dan onverwags weer. Wat veral steurend in dié opsig was, is dat die areas nie duidelik aangedui is nie, byvoorbeeld die dorp en industriële area nie. Daar kan redelik staatgemaak word op die Eskomtabelle. Baie inwoners verkies egter korrekte munisipale aankondigings. Die neerdrukkende nuus is dat as ‘n mens na kenners luisters gaan beurtkrag die hele jaar ons voorland wees . . .
Motorlisensiesituasie
Die motorlisensies word al ‘n geruime tyd by die poskantoor hanteer. As jy egter ‘n bestuurslisensie moet hernu met die gepaardgaande oogtoets, is jy aangewese op die verkeersafdeling se kantoor. Dáár ervaar jy nou werklik die “nuwe normaal”wat niemand vooraf van weet nie of in kennis gestel is nie. Geen vinnige prosedure soos voorheen nie, of ‘n dag se verlof is jou voorland. Nie geweet jy moet voor 08:00 in die ry wees. As jy niksvermoedend by die hek inry en parkeer, word jy gevra om buite te stop. Dit is as gevolg van die Covid-19 situasie. As ‘n mens dit net op die hek kon lees of in die media op attent gemaak word, sou dit al baie moeite gespaar het.
En dan, wat my oorgekom het toe ek my rybewys wil hernu. Eers staan ek lank in ‘n ry en toe dit eindelik my beurt is, kyk die persoon by die deur na my Bewys van Woonadres en sê dat dit is reg. Toe ek egter by die volgende persoon kom, word ek luid berispe dat die bewys nie reg is nie. Na ‘n lang prosedure daarna waarin die bestuur by die munisipaliteit my moes bystaan met hoe ek die regte bewys (wat al die tyd op my selfoon beskikbaar is, maar ek nie kans kon kry om te verduidelik nie) kan gaan druk.
Terug by die verkeerskantoor word daar nog gepoog om fout te vind, dog elke jota en titel is korrek. Gelukkig beland ek by ‘n vriendeliker persoon wat die oogtoets uitvoer. As gebruiker van ‘n bril met multifokale lense, besef ek dadelik dat dié masjien is glad nie vir so ‘n situasie gebruikersvriendelik nie. Die aanwysing oor wat om te doen, is ook nie duidelik nie. Lang storie, kort. Uiteindelik is ek meer as 5 ure later deur die “nuwe normaal”. Ek gee dit net deur dat u weet wat om te verwag. Ek het dit nie geweet nie, na báie jare as kliënt plaaslik.
By die poskantoor het ek vinnig my motorlisensie hernu. Nog ‘n diens wat by die verkeersfafdeling weggeneem is en wat diens by die verkeersafdeling ligter behoort te maak . . .
Begraafplaas (verste een)
Dit was ‘n aangename verrassing om die begraafplaas saam met familie te besoek in die vakansietyd. Dit was skoongeskoffel. Na die goeie reën het gras groen begin groei en oorwegend was die hope skoffelvullis verwyder. In teenstelling met ‘n begraafplaas elders in Noord-Wes wat besoek is wat na ‘n oerwoud lyk en verwaarloos is, was ek trots op die toestand van Postmasburg se begraafplaas. ‘n
‘n Demper op die entoesiasme is ‘n mate van vandalisme wat duidelik waarneembaar is. Sommige grafte is gebreek en ornamente lê rond. Sommige grafte het ook ingesak. Besoeke van familie is soms noodsaaklik om sulke situasies op te tel.
Die omheining wat al jare plat lê en plek-plek verwyder is, is één groot leemte. Dit gee toegang tot diere (beeste, perde, bokke), ook die oop hekke.
















