
Dis Saterdagoggend vroeg in Deben – jy hoor die gebrul van ‘n groot trok op pad na DoringDraad DeBen.
Voor die trok ry een enkele wit bakkie uit – dis doodstil in die dorpie, dis net die gebrul en die gewissel van ratte teen die grondpad af…
Hulp is op pad.
Dis Vrag 1103 – Droogtehulp se Vrag 1103 op pad na Deben se boere. Op Vrydag 8 Februarie 2019 het daar meer as 50 trokke vertrek met voer ter waarde van R3 miljoen vir droogte-geteisterde areas. Die trokke het vertrek vanuit Zeerust, Clocolan en Frankfort – swaar gelaai met mielies, voer en lusern na areas in die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Wes en selfs Namibië.
Die naweek van 1 en 2 Februarie 2019 het DoringDraad DeBen optredes van Demi-Lee Moore aangebied. Die klankingenieur – bekende Bean van Magic Bean Records, wat betrokke was by beide vertonings, het die nood in Deben raakgesien as gevolg van droogte. Hy het Burre Burger van Droogtehulp gekontak en kon dit regkry om een trok Deben toe te stuur, al was dit nie op Burre hul se aanvanklike beplanning nie.
Deben se boere sê dankie vir die hulp en is ook dankbaar dat Droogtehulp nou bewus is van die nood in hierdié area.
Dankie Bean dat jy hierdie projek geïnisieer het.
Dankie Burre Burger – vir die ongelooflike werk wat jul doen!
















