Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

 

Tydens ‘n onlangse raadsvergadering het die kantoor van die Ouditeur-Generaal die ouditverslag vir die ZF Mgcawu distriksmunisipaliteit vir die 2017/2018 finansiële jaar voorgehou.

 

Die verslag dui daarop dat die ZF Mgcawu distriksmunisipaliteit vir die sesde agtereenvolgende jaar ‘n skoon oudit bereik het.

 

Die distriksmunisipaliteit het, wat genoem word, ʼn ongekwalifiseerde ouditverslag verkry en dit is ʼn verslag wat beweer dat die finansiële state vry is van wesenlike wanvoorstellings – dit wil sê, ‘n finansieel ongekwalifiseerde ouditmening – en daar is geen wesenlike bevindinge oor die rapportering van prestasie doelwitte of nie-nakoming van wetgewing.

 

Op sy beurt het die Uitvoerende Burgemeester van die ZF Mgcawu distriksmunisipaliteit, Raadslid Abraham Vosloo, gesê dat, “Harde werk en toewyding is aan die orde van die dag by ZFM en ek wil elke personeellid bedank vir hul individuele en gesamentlike bydraes tot hierdie prestasie.”

 

Raadslid Vosloo het in sy kort toespraak onder andere gesê dat die skoon oudit net toegeskryf kan word aan die feit dat beide die raad en die administrasie ‘n positiewe houding het teenoor hul individuele rolle, dit wil sê, beide die oorsigrol en die implementeringsrol word te alle tye toegepas.

 

Die raad en administrasie van die munisipaliteit het hand aan hand gewerk om te verseker dat die personeel verantwoordelik is vir die implementering van vorige jare se ouditbevindinge en met die hulp van die Oudit Herstel Plan, wat weekliks gemonitor word, was dit moontlik om die finansiële aspekte te moniteer en te verseker dat geen oorspanderings plaasvind nie.

 

“Dit is met trots dat ek namens die raad van die ZF Mgcawu distriksmunisipaliteit die senior bestuur en die hele werkerskorps geluk wens met hierdie skoon oudit vir die 2017/2018 finansiële jaar. Ons het weereens bewys dat dit moontlik is om hierdie prestasie te bereik en te behou,” het Raadslid Abraham Vosloo gesê.

 

Die Kathu Gazette wens die ZF Mgcawu distriksmunisipaliteit baie geluk met hierdie pragtige prestasie. Ons is trots op julle ! Julle bewys dat goeie plaaslik regering wel moontlik is. Mag ander munisipaliteite in ons streek in julle voetspore volg. Redakteur