Gospelsanger bring sy “Koortjies” na die mense
Horison Media
Die naam, Jonathan Rubain, is nie meer ‘n onbekende naam in Suid-Afrika nie en die afgelope jaar ook sinoniem met die program, Koortjies, op kykNET.
Rubain het onlangs sy 6de album getiteld, “Koortjies”, na die mense in alle uithoeke van die land gebring en ook ‘n vinnige draai in Postmasburg en Kathu gemaak.
Rubain vertel: “Ek sing al 18 jaar en het met elke koortjie op my CD opgegroei. Kerk en gospelmusiek is deel van my opgroei en die album het dus sentimentele waarde”. Rubain het naam gemaak in Suid-Afrika as gospelkunstenaar en baskitaarspeler en is reeds al soos ‘n huiskind in verskeie Noord-Kaapse dorpe. Sy eie program het sy loopbaan as kunstenaar beslis ‘n hupstoot gegee erken hy trots. “Die mense van die Noord-Kaap het my baie goed ontvang en beslis ondersteun. Ek is opreg dankbaar.”
Die produksiespan is tans besig met opnames vir die tweede seisoen van Koortjies en Rubain beloof om nog groot name en onbekende stemme op Koortjies bekend te stel. In samewerking met verskeie rolspelers beplan hy ook verskeie optredes na die pandemie en inperking. “Ek wil ook graag onbekende stemme in gospelmusiek bekendstel en op so ‘n manier teruggee en my bediening op so ‘n wyse uitleef,” vertel Rubain terwyl hy CD’s teken en regstaan vir foto’s saam met aanhangers by die Sibilo inkopiesentrum.
Rubain is ook deel van ‘n sanggroep, Seuns van Sion, met gospelmusiek as integrale deel van hulle bediening en roeping om die evangelie te verkondig. Pastoor Lincoln Oss van Kingdom Garden Ministries (KGM) in Postmasburg het verlede jaar vir Seuns van Sion gehuisves en KGM beloof om weer die groep later in die jaar ‘n groter platform te gee om plaaslike kunstenaars ook blootstelling te gee.
“Koortjies” is Rubain se nuutste album bestaande uit 13 snitte met oa: Soos ‘n brandende hout, Hy’s nog dieselfde Jesus, As Hy kom op die wolke van die hemel en Loof Hom met die tromme.
“Wat sou ek die Here vergeld vir al Sy weldade, as ek die pad aanskou waarlangs Hy my gelei het en die rots waaruit Hy my gekap het? Ek kan nie anders as om dankbaar te wees nie.” – Jonathan Rubain.
FOTO: Pastoor Francisco Tejada verbonde aan New Command Ministries in Vredenburg, Wes-Kaap, Jonathan Rubain, Pastoor Lincoln Oss, senior pastoor van Kingdom Garden Ministries in Postmasburg en pastoor Roland Miggels van Higher Dimension Church in George, Wes-Kaap.
















