Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Hartseer vaarwel aan ons beminde skoolhoof

Die Langeberge hier by Olifantshoek is beslis armer daaraan toe met die skielike heengaan van ons onbaatsugtige hoof, mnr Jacob Pienaar.

Jacob Pienaar, geliefde skoolhoof van Noord-Kaap Laerskool te Olifantshoek, is op 21 September 2020 in die ouderdom van 59 jaar oorlede.

Maandagoggend, 21 September 2020, het die nuus soos ‘n swaar kombers oor die skool getrek. Hartseer en met ongeloof, meneer Pienaar is nie meer daar nie. Dit was ‘n baie moeilike dag.

‘n Gedenksdiens was Donderdag, 24 September 2020, by die skool gehou. Sy ter aarde bestelling het Saterdag, 26 September 2020, plaasgevind.

Mnr J Pienaar is op 21 Julie 1961 in Olifantshoek gebore. Sy skoolloopbaan het by Noord-Kaap Laerskool begin en hy het sy Hoërskool by Carlton van Heerden voltooi. As jong seun het hy gedroom om ‘n “boilermaker” te word, maar het van besluit verander en het onderwys by Perseverance Onderwys Kollege studeer. Hy begin sy onderwysloopbaan by Noord-Kaap Laerskool in 1987 en word as prinsipaal aangestel in 2001. Mnr Pienaar was vir bykans 33 jaar in die onderwys, waar hy ‘n groot impak en positiewe verskil gemaak het.

Ons skoolhoof was ‘n uiters hardwerkende mens, met ‘n absolute passie vir die onderwys… Hy het ‘n oopdeur beleid gehandhaaf en sy deur het letterlik altyd oopgestaan vir sy personeel en die gemeenskap van Olifantshoek. Mnr Pienaar het op verskeie gemeenskapsforums en komitees gedien, onder andere, Olifantshoek Unemployment Committee, ANC Welfare Committee, Deputy Secretary van Johan Titus ANC Branch, Director van Phutadichaba Resource Centre en vele ander. Hy het ook ‘n groot rol gespeel tydens die onderhandelinge om Olifantshoek deel van die Gamagara Munisipaliteit te verklaar.

Mnr Pienaar was ‘n goeie pa en eggenoot, wat sowaar ‘n rolmodel vir sy gesin was. As man en pa was hy ‘n groot steunpilaar vir sy gesin en familie. ‘n Ware dienskneg van die gemeenskap. Hy laat na sy vrou Liena, 2 seuns, 2 dogters, 6 kleinkinders, 1 broer en ‘n breë familie en vriendekring.

Dit is met groot pyn en hartseer dat sy gesin, Noord-Kaap Laerskool personeel en die Olifantshoek gemeenskap moet afskeid neem van ons geliefde skoolhoof. Hy los ‘n groot leemte by sy gesin, die skool en in die gemeenskap. Ons gaan sy lekker laggie so mis.

Ons eer sy voetspore en nalatenskap. Mnr Pienaar sal met liefde onthou word as eggenoot, pa, oupa, hoof en vriend.

Rus in vrede meneer Pienaar.

 

FOTO: Oorlede, mnr Jacob Pienaar.