‘n Drie in die laaste paar minute was al wat nodig was om aan Sishen rugby klub hul sewende agtereenvolgende liga titel in die Griekwaland-Wes Rugby Superliga te besorg.
Met ‘n 2-0 agterstand na die jaarlikse uitspeel wedstryde het ‘n vasberade Sishen span op Saterdag 4 Augustus, Vleissentraal Park in Kimberley betree om hul titel as Griekwa Superliga Kampioene te verdedig.
Vanaf die eerste afskop was dit duidelik dat beide spanne ‘n plek in SARU se 2019 Goue Beker Liga as hul doelwit gestel het en bereid was om alles op die spel te plaas om die doel te verwesenlik. Kimberley het die punte leer geopen met ‘n strafskop waarop Sishen ook die geleentheid benut het om op ‘n fout van Kimberley te kapitaliseer toe Henco Olivier in ‘n strafskop geslaag het.
Die spanning van die wedstryd was weerspieël deur die gelykop telling van 3 elk na die eerste helfde van die wedstryd. Sishen ondersteuners geklee in die span se kenmerkende grys en geel, het ‘n oorhand op die pawiljoen gehad en selfs die tuisspan ietwat onwelkom op hul eie tuisgrond laat voel met hul luidrugtige sang en hande klap.
Sishen het in die tweede helfte hul man gestaan en selfs na nog twee strafskoppe wat ‘n 9-3 voorsprong aan Kimberley besorg het, het die manne hul aanval voortgesit. Sishen het na drie verloor wedstryde opgestaan na hul val, hul spel vervolmaak en op Kimberley se foute met ervaring reageer. Die wedstryd was gekenmerk deur hanteringsfoute aan beide Sishen en Kimberley se kant. In die 76ste minuut word ‘n strafskop aan Sishen toegeken na ‘n skrum. ‘n Skop na die kantlyn word gevolg deur Sishen wat hul eie lynstaan wen. Sishen kon uiteindelik daarin slaag om die voortou te neem toe onder-kaptein Henco Olivier die enigste drie van die wedstryd gedruk het, waarop Len le Roux met sorgvuldige skopwerk die drie verdoel het.
Die afrigters en bestuur van Sishen het nie vir een oomblik getwyfel in die span se karakter en vermoë om dié belangrikste wedstryd van die seisoen te wen nie. Ongelukkig het die wedstryd ook sy prys gehad in die besering aan Willie Vermeulen wat op Sondag oggend ‘n noodoperasie moes ondergaan om ‘n geskeurde dyspier te herstel.
Sishen Rugby klub sien daarna uit om met die ondersteuning van hul afrigters, bestuur, ondersteuners en borge gereed te maak vir die Goue Beker Liga in 2019.
















