Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Nuwe kwekery met ‘n verskil maak oop

Horison Media

 

Kombineer ‘n korporatiewe prokureur, ‘n menslike hulpbronne beampte en ‘n huishulp en jy kry ‘n kwekery met ‘n verskil.

Suksesvolle prokureur, Elzani Coetzer, haar menslike hulpbronne beampte, Maureen Niesing en die kreatiewe huishulp van Elzani, Barbara Modisaemang, het besluit om hul liefde vir plante, tuinmaak en kralewerk in een pot te gooi en Kalahari Cactus oopgemaak op Saterdag 06 Februarie in Postmasburg.

Volgens die trio, was dit hul liefde vir plante en die groot nood na ‘n kwekery op dié dorp waar baie mense nog ‘n trots en liefde vir tuinmaak het.

Elzani vertel: “Ons het die behoefte gesien vir ‘n unieke kwekery in Postmasburg waar kliënte nie net ‘n paar plante kom koop nie, maar ook ‘n geskenkie kan uitsoek tussen Barbara se mooi kuns- en kralewerk wat sy self maak”. Barbara maak die mooiste oorbelle, armbande en nekversierings uit klei en saans ná ‘n besige dag op kantoor, help Elzani haar huishulp om die kleiwerk te verf en te versier om af te skakel van haar bedrywige skedule as prokureur. As suksevolle sakevrou het sy die potensiaal in haar huishulp raakgesien en help haar om nou haar kunswerk by die kwekery te verkoop.

Maureen werk as menslike hulpbronne beampte by Elzani se praktyk en vertel opgewonde hoe sy en haar baas nou sakevennote is en hul liefde vir plante deel. Kalahari Cactus het ‘n verskeidenheid van vetplante en struike om enige tuin kleur en karakter te gee.

Die drie sakevroue het groot planne om hul kwekery stelselmatig op te bou tot ‘n eenstoptuinbesigheid, ’n geskenkwinkel en nog latere byvoegings wat Horison Media beloof het om nie nou al openbaar te maak nie.

Opgewonde kliënte wat die opening van Kalahari Cactus bygewoon het, is bederf met ‘n vingerete. ’n Gees van opgewondenheid was by almal merkbaar en niemand het met leë hande huis toe gegaan nie. Kalahari Cactus het weer die liefde en dieper waarde van tuinmaak kom aanwakker by Postmasburgers.

Kalahari Cactus, wat aangedryf word deur drie visionêre vroue, sal beslis waarde toevoeg tot Postmasburg waar dorpsontwikkeling teen ‘n slakkepas plaasvind. Die kwekery sal elke Saterdag oop wees by Casper Venterstraat 10.

 

 

FOTO1: Barbara by haar handewerk, Pine Pienaar Fotografie.

FOTO2: Kwekery-kliënte besoek die nuwe kwekery, Pine Pienaar Fotografie.