
Die Cravenweek (Rugby) wat in Bloemfontein plaasvind, was verlede week met groot belangstelling op TV dopgehou. Slegs enkeles weet egter dat die agsteman, Stefan Swart, wat tans in graad 11 is aan Diamantveld Hoërskool, ‘n produk van Postmasburg Laer- en Hoërskool is. Hy word ook deur die kommentators genoem as “een van die spelers om dop te hou”. Hy is die kaptein van Diamantveld se o/19A span en onderkaptein van die Cravenspan. Die wedstryd wat op 2 Junie gespeel is, het sy span, die Griekwas, met 35 – 24 teen die Limpopo BLOU BULLE gewen.
As ‘n mens in ag neem dat slegs 3 graad 11 spelers gekies is om in die Cravenweek te speel, het ‘n mens begrip vir die trotse ouers, MP en Elma Swart van Duvenhagestraat se groot belangstelling in hul jongste seun se loopbaan – op die rugby- krieket- en akademiese gebied. Mnr. Swart wat ‘n paar jaar gelede by Spoornet afgetree het, het nou geredelik tyd om Stefan se sportspoor te volg.
Postmasburg se spruite, kom ‘n mens al hoe meer agter, styg op vele terreine uit. Voorspoed Stefan! Ons luister aandagtig wie is die uitverkorenes wat vir die twee Cravenweekspanne gekies gaan word.
FOTO: Stefan Swart, 8ste man van Griekwas, wat nou in Diamantveld skool gaan, maar wie se wortels steeds in Postmasburg is, het kookwater rugby by die Cravenweek in Bloemfontein gespeel.
















