Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Pad- en straattoestande wek kommer

‘n Week van groot ongerief is weer verby sonder dat herstelwerk aan die uiters swak toestand van paaie gedoen is.

Daar is gemerk dat daar op Dinsdag 09 Februarie 2021 met lapwerk langs die Tsantsabane munisipale kantore begin is, Waarskynlik sal die ergste kraters geleidelik aandag kry nadat die materiaal gekom het . . .

Die groot kopseer waaroor inwoners onophoudelik navraag doen, is wanneer die swak toestand van die pad in Hoofstraat herstel sal word en veral nou dat verkeer wat groot gelaaide trokke insluit wat dié roete oor Griekwastad gebruik, gou weer sy tol gaan eis.

Die groot trokke, wat erts en ander ware vervoer, gebruik die pad deur die dorp tot groot ontsteltenis, weens die gevaar wat dit vir verkeer en voetgangers inhou; maar ook omdat dit bydra dat hierdie strate wat nie dié swaar verkeer kan dra nie, permanent beskadig word.

Die raadslid in die dorp het ‘n versoek en aanbeveling oor die situasie aan die Tsantsabane Munisipale Bestuurder en Direkteur Gemeenskapsdienste gerig. ‘n Moontlik tydelike ompad agter Hoërskool Postmasburg verby is aanbeveel. Die direkteur het genoem dat tydens ‘n vorige soortgelyke versoek aan die eienaars van die pad agter Hoërskool Postmasburg verby, hulle ongeneë was oor die gebruik van dié privaatpad. Tydens ‘n raadsvergadering is die punt ook bespreek.’n Oplossing word ingewag.

Wat hierdie straat uniek en moeilik maak om te sluit vir groot verkeer, is dat dit ‘n provinsiale pad is, wat die dorpe Kathu oor Postmasburg met Griekwastad verbind. Vir die onaanvaarbaarheid van dié tipe verkeer deur ‘n dorp se Hoofstraat,  met negatiewe effekte, sal ‘n langtermynoplossing gekry moet word. Die spoedeisendheid vir die huidige situasie is deur die raadslid aan die Munisipale Bestuurder uitgewys.

Tydens die vergadering is, onder andere, die skade aan gebiede wat oorwegend deur stormwaterafvoer veroorsaak is, bespreek. Die gebrek aan eie hersteltoerusting is ook bespreek en die hoë koste van gehuurde toerusting  om die herstelwerk te verrig.