Personeel word bederf met ‘n spanbou ekskursie
‘n Jaar van skok, onsekerheid, vrees en angs was 2020 inderdaad. ‘n Jaar enig in sy soort. Regoor die land en selfs wêreldwyd is ons almal tot stilstand gedwing en was ons vasgevang deur ‘n realiteit waaroor wyd bespiegel is en waaraan ons min kon doen.
Geliefdes, familie en vriende was direk geraak deur siekte en veral die onvermydelike en onaanvaarbare dood. Dit het trauma, emosies en veral ‘n negatiewe sielkundige impak op talle landsburgers gehad. Skoolgemeenskappe, onderwysers en leerders was geen uitsondering nie.
Die jaar 2021 moet dus met nuwe hoop en vertroue deur gebed betree word. As gevolg van bogenoemde, beoog die 25 personeellede van Laerskool Sishen om ‘n wegbreek motiverings- en spanbou bosberaad te hou vanaf 10 – 12 Desember 2020 by ‘n rusoord in die provinsie. Dit sal natuurlik geskied onder die streng voorgeskrewe Covid-19 maatreëls en regulasies. Twee spesialiste gaan die bosberaad fasiliteer.
Hierdie ekskursie is moontlik gemaak deur talle borge wat na vore getree het en alle kostes dek, onder andere die vervoer, die verblyf en die etes.
Laerskool Sishen wil graag hiermee hul opregte dank en waardering uitspreek teenoor die borge en hulle alle voorspoed toewens in hul onderskeie besighede en ondernemings. Sonder hulle sou hierdie ekskursie nie kon plaasvind nie.
Laerskool Sishen wens ook ons Gamagara burgers ‘n mooi en veilige feestyd toe.
FOTO: Die borge saam met personeellede was (vlnr) J Davids – Departementshoof, T Stevens – Latimo (Pty) LTD, A Van Wyk – Amstel Factories, Suzi Strauss – Komma Weer slaghuis, C Smith – Bird Holdings, D Moagi – Skoolhoof, B Mocwagole – Mocwagole Busdienste, D Leibrandt – Kgalagari Mining, W Willemse – Drain Surgeon, C McLean – Onderwyser en N Pedro – Adjunkhoof.
















