Op Saterdag 17 Augustus 2019 het Rietfontein Gekombineerde Skool sy jaarlikse sportdag gehou wat ook die afsluiting was van die lang, uitmergelende sportseisoen vir die wintersportkodes.
Ideale weersomstandighede, inklimspel en grasieuse bewegings en ‘n waarderende skare het die sportdag ‘n geleentheid gemaak waaroor nog lank gepraat gaan word. Hoёrskool Upington het ook aan hierdie jaar se verrigtinge deelgeneem.
Onder ideale weersomstandighede, met braaivleis geur in die lug en onder die wakende oog van brigadier Sampie Koopman, streeksvoorsitter van rugby in ZFM –distrik en borge het die seuns en dogters hul vaardighede ten toon gestel. Die trompoppies het die dag se verrigtinge geopen met hul vertoning. Daarna het die drama op die rugby-, netbal- en sokkerveld ontvou.
Die rugby wedstryd waarna die skare uitgesien het was tussen Rietfontein en Uppies. Met hul gewig voordeel, balhantering en verspreiding het Rietfontein die eerste twintig minute net van die krummels balbesit geleef. Hulle was onder druk en was vasgepen in hul kwart gebied. ‘n Doodse stilte het geheers toe Upington twee keer agter die pale gaan kuier het. Rietfontein wou nie bes gee nie en hul rotvaste verdediging het verhoed dat daar nog skade aangerig kon word.
Lawrence Classen, die haker was woelig en was die vonk met die verbete terugveg poging. Rietfontein het byna ‘n volmaakte uitslag gehad, maar moes die knie voor Hoёrskool Oranjezicth op die netbalveld buig.
Die gees waarin die wedstryde gespeel was en die gedrag van die skare was prysenswaardig. Die volgende skole het die sportdag ‘n lekker affệre gemaak: Hoёrskool Upington, Hoёrskool Saul Damon, Hoёrskool Oranjezicht en die gasheer, Rietfontein Gekombineerde Skool.
Die SBL en die personeel wil almal bedank, maar veral die spelers wat hul lywe op die spel geplaas en die opofferinge met die reis na die sportdag.
Uitslae is as volg: Rugby o/16 Rietfontein 14 – Upington 10, Rugby o/16 Saul Damon 0 – Upington 20, Rugby o/16 Rietfontein 52 – Saul Damon 5 en 7 ‘n kant rugby was slegs ‘n vertoon wedstryd. Sokker o/16 Rietfontein 1 – Saul Damon 0 en Sokker o/19 Rietfontein 3 – Saul Damon 1. Netbal o/16 Rietfontein 9 – Oranjezicth 10, Netbal o/19 Rietfontein 14 – Saul Damon 5 en Netbal o/19 Oranjezicht 5 – Saul Damon 19.
















