Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

Vanoor ‘n baie wye gebied het boere en belangstellendes op Soetfontein buite Postmasburg byeengekom, tydens die plaaslike Agri Opedag, in samewerking met Old Mutual, om eerstehands kennis op te doen oor landbouaangeleenthede in die land en die omgewing.

Die groot belangstelling kan uit die aard van die saak hoofsaaklik toegeskryf word aan die grondkwessie wat tans een van die land se hoofbesprekingspunte is en bydra tot onsekerheid in die boeregemeenskap.

Die sprekers wat in hul besige programme tyd ingeruim het om Agri Postmasburg se Opedag by te woon, spreek van die ernstige versoek wat ook uit plaaslike geledere opgegaan het.

Jim Bredenkamp van Agri se plaaslike tak het in sy verslag oor die 39ste Agri Noord-Kaap 2018 kongres gesê dat vervreemding op grondvlak nie toegelaat kan word nie en dat brûe gebou moet word om ‘n goeie fondament te lê. Hy het onder andere gedui op die baie staatsgrond wat beskikbaar is om ontsluit te word.

Omri van Zyl, die Uitvoerende Bestuurder van Agri SA, het opgemerk dat Dan Kriek, President van Agri SA, sê “dat jy jou nie uit moeilikheid uit kan onteien nie, maar wel kan ontwikkel. Daar moet ook gefokus word op oplossings”. SA beskik oor hierdie komponente soos georganiseerde landbou, ontwikkelende landbou, om sonder geweld op te tree, en het die nodige strukture en oppergesag van die reg om die regering verantwoordelik te hou om daarvolgens op te tree.

Mnr Van Zyl het verder gesê dat ons op ‘n bepaalde tyd op ‘n bepaalde plek geplaas is om hierdie sake reg te hanteer. Hy het ook daarop gewys dat lande soos Zambië titelaktes het wat niks werd is nie. Die saak moet deurdag benader word. Die landboubedryf is die enigste instansie wat op gereken kan word.

Mnr Van Zyl het gewys op die vier risikofaktore wat na opgelet moet word, naamlik grond, klimaat, infrastruktuur en die sosiale media.

Agri SA beskik oor die beste adviseurs, het ‘n regsfonds en die beste advokate. Internasionale aandag is ook gekry, dus is alle scenarios gedek. Rusland en ander lande is almal teen grondonteiening. Die banke en internasionale handel sal net verder verswak as grondonteiening ‘n werklikheid sou word in Suid-Afrika.

Nichol Jansen van Agri Noord-Kaap het gesê dat daar beding moet word vir ‘n ekonomiese stelsel waar daar vooruitgeboer kan word. Hy het gemaan dat radikalisme nie bestuurbaar is nie, dat verkeerde opdragte wat tot ‘n Marikana situasie kan lei vermy moet word en dat daar gewaak moet word teen verdelende opdragte uit eie geledere.

Ten opsigte van die vergadering wat Agri SA en ander instansies die volgende dag met die ANC leierkorps sou hê, het Mnr Jansen gesê dat daar reguit vir oud president Zuma gesê sal word dat grond nie gesteel is nie.

Om werkbare oplossings in ‘n multikulturele en politiese omgewing in ‘n positiewe lig te stel is van deurslaggewende belang. Leiers se denke moet gestimuleer word, het mnr Jansen gesê.

Ook op die program was die 39ste Agri Noord-Kaap 2018 kongres waaroor Jim Bredenkamp verslag gelewer het, RPO-nuus deur Japie Oberholster en ‘n baie insiggewende inset deur Old Mutual se CFP Chantel Strauss oor erfopvolging in moderne boerdery.

Die verrigtinge is afgesluit met ‘n “boere-braai”.