Skenking vir verwaarloosde diere
Simonè Wiid het onlangs R2 100 in die vorm van troeteldierkos geskenk aan Kalahari Heart, ‘n nie-winsgewende organisasie op Deben wat skuiling en versorging bied aan verwaarloosde diere.
Dit was ‘n Voortrekker gemeenskapsprojek wat harde arbeid vereis het en die laaste vereiste waaraan Simonè moes voldoen voor sy kan inskryf as Presidentsverkenner (PV) kandidaat. Die finale eksamen is geskeduleer vir 19 April 2021. PV is die hoogste toekenning wat enige Voortrekker kan verwerf.
Die projek was ‘n woeker-aksie met Simonè en haar ma wat party nagte tot lank na middernag nog gestaan en koeksisters bak het. Sy het dit dan verkoop om fondse in te samel.
Projekte word gewoonlik in spanverband gedoen, maar Simonè is die enigste Voortrekker in die graad elf span. Dit het beteken dat sy persoonlik baie hard moes werk. Gelukkig is sy gewoond daaraan om individueel te werk, aangesien sy die enigste kind is van Abie en Serina Wiid, wat haar grootste ondersteuners is.
Die aankope is by Kathu Angling & Pet gedoen, wat ‘n bykomende R1 560 geskenk het vir die projek. In totaal is R3 660 se voer dus geskenk, wat insluit: 8 x 50 kg hondepille, 4 groot blikke hondekos, 23.6 kg katpille, 7 blikke katkos, 8 kg konynkos en 5 kg mielies.
In reaksie op die skenking het die eienares van Kalahari Heart ‘n ope brief geskryf om haar dankbaarheid te betuig:
“Groot dankie vir hierdie wonderlike skenking vir ons diere. Baie dankie aan Simoné Wiid, jy is “truly amazing”. Dankie ook aan Victor & Sha- Sha Swanepoel van Kathu Pawn Shop en Dawid & Susan van der Berg van die Voortrekkers
Ons waardeer dit so verskriklik baie.
Soos almal weet kom daar net ‘n dag waar jy met jou kop in jou hande sit op jou hurke, sommer so teen die muur en dan sê jy, hoe nou?
Jy sê vir die mense wat kom klop jy is jammer jy kan nie meer help nie en jy gee jou laaste kos uit, al weet jy, jou eie honde moet môre ook eet.
So terwyl jy maar daar sit bel Surina jou en vra of jy môre beskikbaar sal wees vir ‘n paar fotos.
Vir wat… wel Simoné Wiid die jong Voortrekker dametjie het ‘n projek geloods en genoeg geld ingesamel om vir ons nou sommer weer verskriklik te laat glimlag.
Brumilda het vanmiddag vir haar gaan ontmoet en vir ons die skenkings ontvang.
Brumilda en Andrew Boyce van Kalahari Heart het die kosse gelaai en vir ons gebring en nou is my kamer vol en môre begin ons weer uitgee.
Groot, groot dankie, hoop ons sien julle binnekort hier om te kuier.
Liefde en dankies
Die KH span”
Die skenking is ontvang deur Brumilda Boyce van Kalahari Heart. Kathu Angling & Pet is verteenwoordig deur Sha-Sha Swanepoel en die Voortrekkers deur Dawid en Susan van der Berg. Simonè is vergesel deur haar ouers.
Simonè Wiid het deur harde werk ‘n wesenlike finansiële bydrae gelewer en bewusmaking oor die lot van mishandelde en verwaarloosde diere by die breë publiek aangewakker.
Navrae oor Kathu Voortrekkers kan gerig word aan: Nicolaas Zaayman, kommandoleier, 084 740 4992 of Susan v/d Berg, adjunk kommandoleier, 084 701 0894.
FOTO: Vlnr: By die stapel voer wat geskenk word verskyn Simone Wiid, Sha-Sha Swanepoel van Kathu Angling & Pet en Brumilda Boyce van Kalahari Heart. Agter: Dawid van der Berg.
















