Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Daniëlskuil, Lime Acres, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

 

Al hoe meer knelpunte kom op die plaaslike Tsantsabane munisipaliteit se diensleweringspad voor, sê raadslid Mimi Swart van die DA, en om betydse

 

antwoorde aan die publiek wat navraag doen te gee, word ook moeiliker.

 

Omdat dit tyd neem om die betrokke amptenare wat die redes en oplossings vir betrokke probleme moet verskaf mee te kommunikeer of “aan lyn te kry “ vir die korrekte terugvoering weer aan die publiek, is ‘n taak op sy eie.

 

Die onlangse Eskom kragprobleem is gelukkig opgelos, aangesien die vereistes nagekom kon word.

 

Watertoevoer en -druk

 

Waterdrukprobleme kom die afgelope meer as twee weke voor, wat aanvanklik toegeskryf is aan werk wat aan die opgradering van die boorgate, wat die reservoir voorsien van water, met die hulp van Kolomela gedoen is. Inwoners kon nie hul wasmasjiene gebruik of selfs stort as gevolg van die lae druk nie. ‘n Deel van die dorp het géén water gehad nie.

 

Omdat die watervlak in die reservoir laag gedaal het, is daar gesukkel om dit weer na die normale vlak te kry, wat die druk en voorsiening van water sou normaliseer. Eers is berig ontvang dat die water van 18:00 tot 06:00 op ‘n sekere dag toegedraai sou word om dié stand reg te kry. Nadat kennis hiervan deurgegee is, het dit nie gebeur nie. Dié tendens het nog geheers toe daar op Dinsdag 09 Oktober 2018 géén of byna geen watertoevoer was nie.

 

Weereens was die kat in die duiwehok. Inwoners was ongelukkig en weereens is gesukkel om die korrekte redes te kry vir dié situasie. Láát Dinsdagaand 09 Oktober 2018 is via sekere kanale inligting gekry dat Sedibeng Water noodherstelwerk aan hulle Delportshooppypleiding, wat water aan die dorp ook voorsien, moes doen, en die toevoer toegedraai het.

 

Water van Sedibeng se Beeshoekpypleiding sou na die reservoir gelei word. Daar is berig dat dit binne ure die drukeffek sou verhoog. Met die ter perse gaan van dié berig, is die resultaat egter nog positief afgewag . . .

 

Die groot vraag is net : Kon die betrokkenes – in dié geval Sedibeng Water – dit nie betyds aan die munisipale bestuurder rapporteer nie, wat dit weer aan die raadslede van die geaffekteerde gebiede vir kennisname aan die publiek kon deurgee nie ? Die frustrasie om sonder antwoorde in krisistye te wees, is onnodig en onwenslik.

 

Rioolverstoppings

 

Hierdie euwel steek ook permanent sy kop uit met onaangename gevolge. Tuinstraat se inwoners ly al jare as gevolg van pompstasie 1 se oorlooprioolvloei wat ook ander oorlope in dié area boontoe op in die Vlei affekteer. Telkens meld die raadslid dit aan maar geen permanente oplossing realiseer nie.

 

Ook elders in die dorp is daar periodieke probleme. Verlede Sondag is ‘n karwasterrein oorspoel met riool wat selfs in die nasionale pad afgeloop het. Alhoewel dit tyd geneem het, was dit verrassend dat die aangeleentheid laat Sondagmiddag aandag gekry het en die blokkering oopgemaak is. Die eienaar het egter ‘n enorme taak gehad om die terrein self weer leefbaar en higiënies te kry.

 

Rondloper diere

 

Hierdie gevaarlike tendens – wat ook reeds oor jare strek, nadat op die skutterrein huise vir die Kolomelamyn gebou is, en ‘n skut nog nie weer gestalte gekry het nie – duur voort. Bokke, skape, perde en soms beeste ook is geen rare gesig in die dorp se oop erwe en in die strate nie. Voertuie is al afgeskryf as gevolg van diere in die strate. Hierdie oortredings van eienaars wat hulle diere loslaat om self kos te

 

soek – sonder enige beheer of toesig – is nie net vir die publiek ‘n gevaarrisiko nie, maar is ook mishandeling van hierdie weerlose diere.

 

Die toestand van strate

 

Die onrybare straattoestande, wat nou nog nie aangespreek is nie en die gate wat intussen meer en dieper raak, word nou aan ‘n “noodtoestand op straat”.

 

Straatligte

 

Daar is ook nog geen vordering gemaak om uit die donkerte te kom nie. Hierdie situasie is ‘n teelaarde vir misdaad en die moontlikheid dat motoriste snags die dorp gaan “misry en verdwaal” is nie uitgesluit nie.

 

Begraafplaas

 

Die begraafplaas buite die dorp was in ‘n netjiese toestand tydens ‘n onlangse besoek daar. As die afwesigheid van die omheining (wat totaal weg is) egter aandag kan kry, is dit ‘n positiewe deel van dienslewering wat vermelding en erkenning verdien.

 

Die raadslid se mening

 

Die publiek wil graag trots wees op hul dorp en omgewing. Dit is moontlik as opgraderings en betydse aandag tesame met lojaliteit en werksetiek van werknemers hand aan hand met hierdie ideaal gaan. Postmasburg is ons almal se dorp en vertoonvenster.