Kathu, Kuruman, Deben, Hotazel, Black Rock, Postmasburg, Olifantshoek and surrounding villages.

KATHU. Die ATKV Kathu tak het op 17 April 2026 ‘n leesprogram wat bestaan uit leesboeke en handleidings aan Laerskool Sishen oorhandig met die doel om die lees- en begripsvaardighede van die Grondslagfase leerlinge te vestig en bevorder.

Dit is ter ondersteuning en uitbreiding van die dienste wat Fluency Beyond Limits (FBL), gebaseer in Kathu, op ‘n weeklikse basis beskikbaar stel aan leerlinge wat ekstra hulp benodig met hul lees- en begripsvaardighede. FBL is ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop gemik is om kinders se potensiaal deur geletterdheidsondersteuning te ontsluit. Die organisasie fokus daarop om leerders wat met lees en skryf sukkel te help deur gratis gespesialiseerde assesserings, doelgerigte intervensie en gestruktureerde geletterdheidsprogramme aan te bied.

FBL werk nou saam met skole, onderwysers en gesinne om te verseker dat elke kind die geleentheid kry om ’n selfversekerde en bekwame leser te word. Deur gemeenskapsopleiding, ondersteuningsinisiatiewe en bewysgebaseerde benaderings, streef Fluency Beyond Limits daarna om nie net akademiese prestasie te verbeter nie, maar ook leerders se selfvertroue en liefde vir leer te herstel.

ATKV kommunikasie

Foto: Vlnr Catherine Lombaard van Fluency Beyond Limits, die voorsitter van die ATKV Kathu tak Abie Wiid en Mecca Johnston van Laerskool Sishen.