Covid-19 steek duidelik kop uit en publiek raak stil
Tot dusver het baie lede van die publiek redelik ongeërg die pandemie benader, te oordeel aan die gebrek aan die dra van maskers en onbeperkte bewegings in die openbaar.
Daar was selfs met verbasing opgemerk dat ‘n kerkgroep aansoek gedoen het vir die bywoning van ‘n begrafnis vir 3000 mense . . .
Die Tsantsabane plaaslike munisipaliteit het Maandagmiddag 27 Julie 2020 hul deure gesluit, ook die PMU-gebou, en sal beide eers weer op 03 Augustus 2020 heropen sodat die nodige sanitasie en ontsmettingsmaatreëls toegepas kan word. Dit volg nadat ‘n interne werker positief getoets is vir die Covid-19 virus. Ook, as voorsorgmaatreël, is die hele waterwerkespan vir sewe dae afgelê op die aanbeveling van die Departement van Gesondheid. Die werkswinkel en ander moontlike geboue is ook ontsmet.
Vir die normale munisipale werksaamhede is daar reëlings voor getref om voort te gaan met kontaknommers wat verstrek is.
Die Spesiale Raadsvergadering wat op 27 Julie 2020 gehou sou word, is uitgestel na die 28ste en sal virtueel plaasvind. Die Munisipale Bestuurder en ander lede van die bestuur en raadslede is beskikbaar om hulp en leiding telefonies te verstrek in gevalle wat dit noodsaak.
Kyk ‘n mens na die statistiek wat deur die Minister van Gesondheid soos op 27 Julie 2020 van positiewe gevalle in die Noord-Kaap verstrek is, het dit vermeerder vanaf 3600 tot 3875 – 274 addisionele gevalle in die voorafgaande 24 uur.
Die riglyne wat oral verstrek word om die verspreiding van die virus te beperk is die enigste wyse wat aangewend kan word om die pandemie te help hokslaan. As u dit net telkens by herhaling lees en dit ook aan familie op die hart druk, is dit al bydrae wat ‘n mens kan maak om moontlike groot hartseer te vermy. Wys ook persone wat hierdie maatreëls ignoreer op hulle verkeerde gesindheid. Ons almal is in dieselfde bootjie – wat ook kan sink . . .
















